Boomtak val man byna dood in motor
Ek is na Montana private hospitaal geneem, waar ek vir agt dae in die waakeenheid was.
Meer as ’n maand nadat ’n boomtak die dak van sy voertuig platgeval het en hy uit die wrak gesny is, praat Manie van den Berg (58) oor sy nagmerrie-ondervinding en oorblywende beserings.
“Ek is gister weer uit die hospitaal ontslaan na ek weer opgeneem is. My gebreekte ribbes is weer geheg, maar ek sukkel nog met my kop en nek wat steeds seer bly,” het Van den Berg Donderdag aan Rekord gesê.
Van den Berg herroep hoe hy op 22 Februarie op pad huis toe was, toe ’n boomtak op sy motor se dak en voorruit geval het.
“Dit was omstreeks 19:00 en ek was op pad huis toe in Gezina van Villieria af. ’n Tak van ’n boom langs die pad het afgebreek, en ek het so half in die vallende tak ingery.”
Van den Berg sê hy onthou net die ongelooflike pyn toe ’n deel van die tak wat sy voorruit gebreek het, hom in die sy deurboor het.
“Die reuse boomtak het die motor se dak ingeduik en as ek nie na my linkerkant toe geleun het nie, het die dak my kop dalk ook beseer.”
Van den Berg sê daar was geen geluid of ander waarskuwing voor die tak op sy voertuig geval het nie.
“Ek het net die slag gehoor toe die tak my tref.”
’n Motoris wat agter Van den Berg gery het, se voertuig het ook skade gely. Die man het nooddienste na die toneel ontbied waar Van den Berg in sy voertuig vasgepen was.
“Ek kon nie asem kry nie. Die tak het op my bors gedruk en ek kon nie beweeg met die stuk wat deur my lyf gesteek het nie.”
Van den Berg sê nooddienste op die toneel het die voertuig soos ’n blik oopgesny om hom te bevry.
“Ek is na Montana private hospitaal geneem, waar ek vir agt dae in die waakeenheid was,” sê hy.
Van den Berg meen sy pad na herstel is ’n lang een. “My ribbes was gebreek en ek het steeds pyn waarvoor ek sterk medikasie moet gebruik.”
Van den Berg sê die boomtak wat op hom geval het, is reeds vroeër deur inwoners as ’n gevaar uitgewys.
“’n Werknemer van die Tshwane-metro was blykbaar vroeër daar om takke van bome naby ’n kragkas af te sny, maar het glo volgens inwoners geweier om die einste tak wat oor die straat gehang het af te sny.”
Van den Berg sê hy sal regstappe neem en eis dat die metro soortgelyke gevare in woonbuurtes verwyder om nog sulke ongelukke te voorkom.
Sien video:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n e-pos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.


