Privaatspeurder gaan Moot-offisier se moord ondersoek
Die familie van ‘n vermoorde polisieman van die Moot het ‘n fonds gestig om te betaal vir ‘n privaatspeurder.
Die familie van ’n vermoorde polisieman in die Moot wil geld insamel vir ’n privaatspeurder om die misdaad te ondersoek.
‘n Fonds is met met die oog daarop gestig, sê familiewoordvoerder Paul Jacobs.
Luitenant kolonel Reinier Lourens Lagois (42) is in Januarie by sy huis in 20e Laan, Rietondale, doodgeskiet.
Konstabel Rishen Rampashard is in verband met die moord in hegtenis geneem. Hy het Lagois na bewering 14 keer geskiet.
Rampashard het einde Februarie in die Pretoria-landroshof verskyn en is op R5 000 borgtog vrygelaat.
Lagois se familie het besluit om die dienste van privaatspeurder Mike Bolhuis in te span om die moord te ondersoek.
Hulle sê hulle het vertroue in die ondersoekbeampte verloor.
Jacobs sê die familie is op soek na antwoorde rakende die moord.
“Ons het baie onbeantwoorde vrae en daar is baie spekulasie en leidrade wat opgevolg moet word. Dit is hoekom ons Mike Bolhuis gevra het om die saak te ondersoek.”
Jacobs sê die familie sukkel om die moord van Lagois te verwerk.
“Almal is nog baie hartseer en ons wil antwoorde hê oor wat gebeur het.”
Jacobs sê hy weet nog net van familielede wat skenkings aan die fonds gedoen het.
Die familie het vroeër in ’n verklaring die polisie bedank vir hul werk in die ondersoek.
“Jul (die polisie) onverdeelde lojaliteit en toewyding aan die diens vir die mense van Suid-Afrika word baie waardeer en ons stuur ons beste wense aan julle in die strewe na geregtigheid in hierdie wreede moord van LT.Kol Reinier Lourens Lagois.”
Rampashard het vroeër in die hof getuig dat die polisie en die Valke hom gedwing het om skuld te erken.
Hy het gesê hulle het hom gemartel, geslaan, gewurg en ’n plastieksak oor sy kop getrek.
“Ten spyte van die feit dat ek saamgewerk het… het hulle my met geweld in ’n kar in gegooi,” sê hy in ‘n verklaring wat sy prokureur Kineil Muthray aan die hof voorgelees het.
“Ek was vir meer as vyf ure aangehou, geforseer om ’n verklaring af te lê en geweier om my regsverteenwoordiger te kontak.”
Lagois se broer Hennie het vroeër gesê die vermoorde polisieman was betrokke in ’n liefdesdriehoek kort voor sy dood.
Hy het gesê Lagois het saam met sy voormalige vriendin Caroline Naidoo in die huis gewoon waar hy vermoor is.
Naidoo is ’n voormalige bevelvoerder van die Pretoria-Wes-polisiekantoor.
Rampashard en Naidoo was na bewering in ‘n verhouding.
Rampashard sal Woensdag na verwagting terug in die hof wees.
’n Facebookblad, “Reinier Lagois Justice Fund”, is vir die fonds gestig.
se/hdw
Lees ook:
Cop appears in court for murder of police officer
Arrest made in Moot cop murder case
Police officer shot and killed in Moot home
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
