‘Seuns’ steel voertuig buite ouetehuis
Drie jong mans is glo weg met 'n bejaarde se voertuig.

Drie jong motordiewe het ’n bejaarde man se motor in die noorde van Pretoria voor sy neus gesteel en weggejaag.
Die man was op besoek by ‘n ouetehuis toe die diewe toegeslaan het.
Die 77-jarige man wat anoniem wil bly, vertel hoe drie “seuns” reg voor die Ruimte-ouetehuis in Pretoria-Noord sy voertuig gesteel het.
“Ek was Maandagaand, rondom 19:00 by die ouetehuis. Ek was skaars 15 minute binne, toe hoor ek net een groot slag.”
Die man sê hy het uitgehaas net om te sien hoe drie mans in sy voertuig wegry.
“Die seuns is so vinnig weg met my kar, ek kon nie mooi sien hoe hulle lyk nie. Maar hulle was nog bloedjonk.”
Die man vertel die diewe het dit reggekry om die alarm van sy voertuig te omseil.
“Al my bankkaarte en belangrikke dokumente was in die kar.”
Die gesteelde voertuig is beskryf as ’n goudkleurige Toyota Tazz met registrasienommer CBS 127 63.
Die man het die saak by Pretoria-Noord-polisiekantoor aangegee.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
