Vier verdagtes vry na dwelmdeurbraak
Die volle feite rondom hul vrylating was nie dadelik duidelik nie.

Vier jeugdiges is vrygelaat nadat hulle Dinsdag weens die besit van dwelmmiddels in die Moot aangekeer is.
Groot bedrae kontant is ook in hul besit gevind.
Die drie jong mans en ‘n vrou het Woensdag in Pretoria-Noord se landdroshof verskyn.
“Die saak is ongelukkig teruggetrek hangende ’n forensiese verslag,” het ondersoekbeampte kaptein Danie de Jager aan Rekord gesê.
Hy wou nie daarop uitbrei nie.
Die vier is na ’n jaagtog deur Paul Krugerstraat vasgetrek waarna Wonderboompoort-polisie op duisende rande se dwelmmiddels en kontant beslag gelê het.
‘n Offisier op die toneel, kaptein Hendrik Lezar, het aan Rekord beskryf hoe die verdagtes probeer vlug het na hy die vier in hul Volkswagen Polo agternagesit het.
“Naby die sirkel by Laerskool Mayville het ek die kar gewaar en gesien hoe een van die outjies ’n pypie gerook het,” het hy verduidelik.
Lezar het met die hulp van nog polisiebeamptes die verdagtes se voertuig agterna gesit toe hul probeer weg jaag het.
Die vier is met die hulp van GPF-lede op die hoek van Paul Kruger-en Fred Nicholsonstraat vasgekeer.
“Die CAT en Crystal Meth wat ons gevind het, het alleen ‘n straatwaarde van sowat R27 000,” het polisiewoordvoerder adjudant-offisier Jacques Oosthuizen voor hul hofverskyning gesê.
Sewe selfone en meer as R4000 in kontant is saam met die dwelmmiddels gekonfiskeer.
“Die vrou wat saam met die mans aangekeer is, het ook dagga en ’n pakkie tik in haar handsak gehad,” het Oosthuizen vroeër aan Rekord gesê.
Kontant is ook by haar gekry.
Lees ook:
Vier met dwelmmiddels en geld gevang
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Rekord Oos
Rekord Noord
Rekord Centurion
Rekord Moot
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.




