Local newsNews

Party dreig met hofaksie oor Rooiwal-aanleg

Regstappe teen die Tshwane metro word voorberei oor die voortslepende probleme by die Rooiwal-rioolwatersuiweringsaanleg. Boere sê beweerde nie-nakoming van vorige hofbevele het tot voortgesette rioolbesoedeling, waterskaarste, beskadigde infrastruktuur en toenemende finansiële verliese gelei.

Die Vryheidsfront Plus berei nuwe hofstukke teen die metro voor oor die toestand van die Rooiwal-rioolwatersuiweringsaanleg en beweerde nie-nakoming van vorige hofbevele.

Vryheidsfront Plus-koukusleier Willie Spies het na ’n vergadering in Pretoria-Noord op 29 Augustus gesê die party werk saam met ’n advokaat aan die voorbereiding van verdere regstappe.

Volgens Spies spruit die beoogde hofaksie onder meer uit bewerings dat onderhoud en herstelwerk wat ingevolge vorige hofuitsprake vereis is, nie behoorlik uitgevoer is nie.

Boere het tydens die vergadering gesê hofverrigtinge is reeds tussen 2016 en 2019 gevoer om onderhoud aan infrastruktuur rondom die Rooiwal-stelsel te verseker.

“Die Vryheidsfront Plus is nie bereid om die saak daar te laat nie. Hierdie afval is besig om die Apiesrivier dood te maak,” glo Spies.

Die moontlike hofaksie kom te midde van nuwe kommer oor die toestand van die aanleg en die gevolge daarvan vir boere langs die Apiesrivier.

Boere het gesê die aanleg funksioneer nie na behore nie en dat riool steeds in die rivier beland. Hulle het ook beweer dat toerusting vir die verwerking en hantering van slyk nie funksioneer nie.

Een boer, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het aan Rekord gesê ’n dam wat deel vorm van die stelsel rondom die Britsdam is beskadig nadat dit volgens hom met slykwater oorlaai is.

Boere het gesê hulle sukkel sedert November verlede jaar om voldoende besproeiingswater te bekom.

Tydens die vergadering is vrae gestel oor die moontlikheid dat amptenare vervolg kan word indien daar bevind word dat waterwetgewing oortree is.

Die toestand van Rooiwal is reeds jare lank omstrede. Die metro het verskeie opgraderings- en herstelprojekte by die aanleg onderneem, terwyl die rehabilitasie en opgradering van die Rooiwal-stelsel voorheen op sowat R4-miljard geraam is.

Die kwessie het ook nuwe aandag gekry ná die cholera-uitbreking in Hammanskraal in 2023.

’n Onafhanklike ondersoek wat deur die Departement van Water en Sanitasie opdrag gegee en deur die Waternavorsingskommissie uitgevoer is, het nie ’n direkte verband tussen die munisipale drinkwatervoorsiening en die uitbreking definitief vasgestel nie. Dit het egter verskeie sistemiese faktore geïdentifiseer wat ’n omgewing geskep het waarin watersiektes kon versprei.

Intussen waarsku boere dat die probleme by die aanleg nie net ’n omgewingskwessie is nie, maar ’n bedreiging vir die voortbestaan van landbou langs die Apiesrivier kan word.

’n Boer in die gebied, het gesê die kernvraag is of boerdery langs die rivier nog volhoubaar is.

“Dit gaan oor die vraag of daar nog volhoubaar langs die Apiesrivier geboer kan word, of grond en waterbronne behoue kan bly en of gemeenskappe op ’n betroubare watervoorsiening kan staatmaak,” het hy gesê.

Leanne de Jager, ’n DA-lid van die provinsiale raadgewer, het die toestand by die Rooiwal-watersuiweringsaanleg as ‘katastrofies’ beskryf.

Sy het beweer dat uitvloeisel direk in die Apiesrivier gestort word en dat die besoedeling uiteindelik ook die Leeukraaldamstelsel raak.

Die Gautengse provinsiale wetgewer se komitee oor landbou en omgewingsake het tydens die vergadering kommer oor die gebrek aan sigbare vordering uitgespreek.

Ewan Botha, LUR vir Omgewingsake, het volgens aanwesiges sy misnoeë uitgespreek oor wat hy as ’n gebrek aan vordering sedert ’n vorige vergadering in November beskryf het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button