CrimeLocal newsNews

Talle in hegtenis geneem tydens Moot polisieoperasie

Brandpunte soos Trimpark en Melgisedek is gefynkam om die veiligheid van inwoners in die Moot te verseker.

Altesaam 21 inhegtenisnames deur Moot-polisiekantoor is tydens ‘n gesamentlike polisie-operasie oor die naweek gedoen.

Lede van die Moot-, Villieria– en Silverton-polisiekantore het Vrydagaand aan ‘Operation Paseka’ deelgeneem.

Villieria-polisiewoordvoerder kaptein Coba Brits sê die doel van dié operasie was om hoë sigbaarheid te handaaf en misdaad in probleemareas van die Moot en omliggende dele te bekamp.

Die polisie het ondersteuning ontvang van plaaslike GPFs, asook die veiligheidsmaatskappye ADT en Kilnerpark-sekuriteit.

Die Moot-polisiekantoor het 21 mense in hegtenis geneem.

“Die inhegtenisnames is by die drie verskillende plekke gemaak.”

Die probleemareas in die Moot wat geteiken is, sluit in Adcockpark op die hoek van Flowersstraat en Johan Heynsrylaan, Trimpark op die hoek van Johan Heynsrylaan en Fred Nicholsonstraat en die onheilsnes en verlate gebou Melgisedek.

“Ons het juis gemik op ons brandpunte waar ons vermoed misdadigers wegkruip en waar ons baie keer gesteelde goedere terugvind,” sê adjudant-offisier Anton Breedt van die Moot-polisiekantoor.

Gedurende die operasie is twee mense vir besit van dagga aangekeer, een vir drink in die openbaar, vier vir dronkenskap en 10 is vas omdat hulle gevaar ingehou het vir voetgangers.

“Vier onwettige immigrante is ook gevang. Verder het ons beslag gelê op 17 bottels bier. Hierdie bier is vanaf ’n smokkelkroeg uit Adcockpark verkoop,” sê Breedt.

Hy sê verskeie messe en 8,9 gram dagga is ook afgeneem.

Kyk hier na die video:

“Die groot probleem in Adcockpark is sluipslapers en dwelmverslaafdes. Mense maak die park hul tuiste en dit lok misdrywe soos dwelmmisbruik, inbrake en prostutisie,” sê Breedt.

Afgesien van die brandpunte in die Moot het kaptein Coba Brits gewaarsku dat inwoners self te alle tye paraat moet wees.

“Motorinbrake in die Queenswood-omgewing raak ’n groot probleem op die oomblik. Inwoners moet seker maak dat hulle geen waardevolle besittings in hul motors oornag los nie.”

Brits sê boewe teiken woonstel-parkeerareas waar karre oornag staan.

“Selfs al is motors in ’n parkeerarea, beteken dit nie dat selfone, skootrekenaars en ander waardevolle items in die kar gelos moet word nie, dit lok misdadigers na dié woonstelle.”

Kaptein Brits het die veiligheidsmaatskappye en die GPF bedank vir bystand tydens die operasie.

“Ek wil graag lede van die publiek aanmoedig om deel te raak van hul plaaslike GPF. Lede van die GPF offer hul tyd op om inwoners veilig te hou.”

Die GPF het ook sop en brood voorsien aan al die rolspelers wat deel was van die operasie.

Lees ook: 

Die Moot se misdaad probleemareas

Kabeldiewe loop hul rieme styf in Moot

Melgisedek se dae getel

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button