Local newsNews

Pretoria-sussies onthou

Pa van twee susters wat verlede jaar in ’n ongeluk gesterf het, deel sy herinneringe aan sy prinsesse.

Die lag in hul oë is vasgevang op ’n skilderdoek – ’n pa se twee prinsesse lewe voort in sy gedagtes en in die harte van hul gesin.

Twee Pretoria-sussies wat nou ’n jaar gelede in ’n motorongeluk dood is, word weer deur hul geliefdes onthou.

Hercules Huyser van Equestria het Rekord vertel van die geverfde kunswerke van sy twee dogters Carli (19) en Laurie (17).

“Die skilderye hang teen die familie-muur in ons huis as herinnering aan my twee prinsesse,” vertel Huyser.

Die twee sussies is in ’n ongeluk naby Brits dood terwyl hulle van Lichtenburg na Pretoria op pad was.

“Carli was my oudste en ’n fiksheidsfanatikus. Ek was so bekommerd toe sy na die Noordwes-Universiteit gaan,” het Huyser verlede jaar vertel.

“Ek het aanvanklik gedink sy gaan moontlik nie aanpas nie omdat sy so ’n sagte mens is. Groot was my verbasing toe sy in die afgelope ses maande ’n groot aanhang gekry het. Mense was mal oor haar.”

Hy sê sy was ’n juweel en onvervangbaar. “Sy het net liefde vir haar medemens gehad.”

Carli en Laurie was onafskeidbaar. Hy sê die twee susters het alles saam gedoen. “Hulle was ware kamerade – hulle sou enigiets vir mekaar gedoen het.”

Laurie, nes haar suster, was lief vir sport en het hard gewerk om universiteitstoelating by die Noordwes-Universiteit te kry.

Carlie het haar matriek aan die Hoërskool Pretoria-Noord in 2014 voltooi terwyl Laurie nog ’n graad 11-leerling daar was.

“As ek so na die kunswerk van my prinsesse teen die muur kyk , kan ek amper die lewe in hul oë weer sien,” sê Huyser.

“Twee van drie hartkamers staan leeg sonder hulle. Dis danksy die ondersteuning van my vrou Hannelie, my familie, vriende en gemeenskap dat ek elke dag kan opstaan en aangaan.”

Huyser sê: “Ek mis die klank van hul stemme… hul laggies… hoe hulle voel as ek hulle vasgehou het in my arms. Alles het verander.”

Op 1 Julie, presies ’n jaar na die sussies se dood, het familie en vriende weer saam gekom om die sussies te vereer.

Die kunswerke teen die familie-muur dra as permanente herinnering van die twee lewenslustige “prinsesse” van Pretoria.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button