CrimeLocal newsNews

Raadslid woedend ná roof

“Ek is meer kwaad as wat ek seergemaak is.”

’n DA raadslid van Capital Park is woedend nadat sy Woensdagaand die slagoffer van ’n gewapende roof was.

Elma Nel was die aand net na 21:00 op pad na haar huis in Capital Park toe sy deur ’n gewapende man aangeval is.

“Ek moet bieg, my kar se deure was nie gesluit nie. Ek was op pad huis toe vanaf ons laaste koukus-vergadering wat baie emosioneel was. Ons moes van kollegas afskeid neem en ek het vergeet om die kar se deure te sluit. Dit was ’n lang dag en ek was moeg.”

Nel het by die verkeerslig op die hoek van Mansfield- en Lavenderweg stilgehou.

“Skielik het ’n man in my kar geklim en die deur toegetrek. Hy het ’n mes teen my nek gehou en my besittings begin vat. Ek het dadelik my noodligte aangeskakel en die toeter geblaas.”

Nel sê ’n trok-bestuurder wat langs haar stilgehou het, kon sien dat sy in nood was en het ook sy toeter geblaas.

“Die man het uit die kar gespring en is weg met my handsak en ’n ring wat aan my hand was.”

Nel sê afgesien van ’n paar krapmerke is sy nie ernstig beseer nie.

“Ek is verskriklik ontsteld omdat die man my ID dokument gevat het. Sonder my ID sal ek nie kan stem in die opkomende verskiesing nie,” sê sy.

“Ek beplan om vandag in die bosse naby dié kruising te gaan soek vir my ID.”

Luister na die klankgreep:

Volgens Nel het die roof in ’n deel van die stad plaasgevind wat jarelank sonder straatligte is.

“Ons het al vele kere by die munisipaliteit gepleit om die straatligte te herstel, maar dit val op dowe ore.”

Nel sê twee ander mense het haar gekontak om te sê dat hulle op dieselfde aand slagoffers was van roof-pogings.

“Ons moet iets doen aan ons donker woonbuurt, dit kan nie so aangaan nie.”

’n Klag van gewapende roof is by die Wonderboompoort-polisie gelê.

Lees ook: 

Bejaarde met yster geslaan tydens aanval

Moot-mense help opruim

Straatligte vir langer as ’n jaar in die Moot stukkend

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button