CrimeLocal newsNews

Misdaadgolf tref gesin

Gesin geteister deur misdadigers in die noorde van Pretoria.

Die angs daarvan om deur die een misdaad na die ander getref te word, teister ‘n gesin in die noorde van Pretoria.

“Hulle (misdadigers) het my dogter se selfoon gesteel, daarna haar motor en onlangs is my stiefseun amper geskiet,” vertel Wilma Marshall van Sinoville.

Marshall, ’n bekende motorhandelaar by McCarthy Volkswagen Silver Oaks, sê sy en haar gesin leef in vrees na die onlangse misdade.

“Ons familie is deur diep waters die afgelope tyd.”

Marshall se stiefseun Robert is Maandagaand van duisende rande besteel in ’n gewapende roof.

Robert sê sy onderneming in Eloffsdal is die aand deur drie gewapende mans geteiken.

“Hulle het by die hek ingeglip toe van my werknemers die terrein verlaat het.”

Hy vertel hoe een van die indringers ’n geweer op hom gerig het en sonder waarskuwing die sneller getrek het.

“Dis net die Here se genade dat hy misgeskiet het. Hy het skaars meer as ’n meter van my af gestaan toe hy die sneller trek.”

Marshall sê die man het weer gedreig om hom te skiet.

“Terwyl hy my na die badkamer gevat het om my toe te sluit, het hy ’n paar keer na my gekorrel om te skiet.”

Marshall sê die rowers het met ’n groot bedrag kontant gevlug.

“Vanuit die badkamervenster kon ek sien hoe die drie uithardloop en ek het om hulp geroep,” vertel.

“Toe ek die veiligheidshek wou sluit, het ek agtergekom dat hulle ook al my sleutels gevat het –dié van my motor, van my onderneming, alles.”

Verlede week is Marshall se dogter ook deur misdadigers geteiken.

Savannah Malherbe (19) het vroeër aan Rekord vertel hoe haar motor Donderdagaand reg voor hul woning in Sinoville gesteel is.

“Net die vorige week is my selfoon uit my handsak gesteel… en nou dit,” het Malherbe vertel.

Malherbe sê die motordief het die aand binne 40 sekondes by haar motor ingebreek en weggery.

Die diefstal is op ’n veiligheidskamera buite die huis vasgevang.

“Ek het my kar voor die huis parkeer en was net ’n paar minute binne. Toe ek uitkom, was die voertuig weg,” het Malherbe vertel.

“Ek dink hy (die dief) moes my agtervolg het. Ons bly reg oorkant die Sinoville-sentrum en ek glo die man het my dopgehou.”

Marshall sê die motordiefstal was vir haar ’n traumatiese ervaring.

“Ek is self al drie keer gekaap. Om te dink dieselfde kon met my dogter gebeur het.”

Sy sê sy voel onveilig naby die winkelsentrum in Sinoville.

“Hier is ’n oop veld naby die sentrum waar ’n paar mense plak. Polisie wil hulle nie daar verwyder nie – maar dit maak ons woonbuurt onveilig. Misdadigers kan maklik vana die veld huise dop hou en weet presies wanneer om toe te slaan.”

Die motordiefstal is by Sinoville-polisiekantoor aangemeld en ’n klag van roof en poging tot moord word deur Wonderboompoort-polisie ondersoek.

“In die laaste ses maande moes ons ook drie begrafnisse bywoon van familielede wat dood is. Die onlangse gevalle van diefstal en roof raak net te veel om te hanteer.”

Lees ook: 

Jong Samaritaan sterf in fratsongeluk

Kragmanne laat wiel in ongewone marathon

VIDEO: Sinoville-thief steals vehicle

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button