OPVOLG: Roekelose bestuur ondersoek na vrou baba verloor
Die saak sal na die staatsaanklaer verwys word vir ‘n finale beslissing.

‘n Vrou van die Moot is steeds in ‘n kritieke toestand nadat sy haar ongebore baba in ’n fratsongeluk verloor het.
“Sy is kritiek maar stabiel. Haar hartklop lyk goed maar haar koors is hoër,” het ’n vriendin Dinsdagoggend aan Rekord gesê.
Belinda Louw is Saterdag deur ’n motor getref by ’n motorwassery op die hoek van Johan Heyns en Ben Swartstraat in die Moot.
Haar baba sou hierdie week gebore word.

‘n Ingeligte bron het vertel dat een van die werknemers by die onderneming met ’n motor bo-oor Louw gery het.

“Dit lyk of die werker nie geweet het hoe om die voertuig se outomatiese ratkas te hanteer nie. Die motor het vorentoe geskiet – bo-oor die vrou en vas in ’n Wendyhuis op die perseel.”
’n Bestuurder by die onderneming, Edian van As, sê ’n interne ondersoek duur voort.
Polisiewoordvoerder Kaptein Coba Brits sê: “Tot dusver word ’n saak van roekelose en nalatige bestuur teen die werker ondersoek.”
Gevra of die hy nie van strafbare manslag aangekla gaan word nie, het sy gesê die ondersoek duur voort.
“Die aangeleentheid sal na die staatsaanklaer verwys word vir ‘n finale beslissing.”
Corné Hitge (28), Louw se verloofde en pa van die kind wat in die ongeluk dood is, het Dinsdag – op sy verjaarsdag – hartseer boodskappe op sosiale media gedeel.
Onder ‘n foto van ’n rooi hart teen ’n muur lui die boodskap:
“Dis hoe lief ek jou en Ryan het bella-bee. Ek sou met graagte met jou plekke wou ruil.”
Dié foto en boodskap is ook op Facebook gedeel:
Lees ook:
Pretoria vrou verloor baba in fratsongeluk
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.zavir jou gratis daaglikse nuusflits.

