Nuwe gesig van Anika se moord aangekla
Man aangekla van moord en verkragting op Anika Smit.
‘n Nuwe gesig in die moord op Anika Smit word nou vir haar dood verantwoordelik gehou.
Andreas Johannes van Wyk (24) is Maandag in die landdroshof in Pretoria-Noord van die misdaad aangekla.
Hy sal tereg staan op aanklagte van verkragting, lykskending en moord.
Smit is as tienermeisie op 10 Maart 2010 in haar pa se huis in Theresapark vermoor. Sy is verkrag en beide haar hande was afgekap en nooit gekry nie.
Van Wyk is geensins by die geregtelike ondersoek na haar dood betrek nie. Hy is ook nooit voorheen as verdagte genoem nie.
Hy het homself Vrydag aan polisie oorgegee in verband met die saak.
Landdros Pierre Wessels het tydens hofverrigtinge toestemming gegee aan die media om Van Wyk se identiteit bekend te maak om ’n einde te bring aan bespiegelinge oor wie die verdagte is.
Vorige verdagtes in die saak is geïdentifiseer en Wessels meen dit is regverdig vir die media om ook nou dié verdagte bekend te maak.
Van Wyk, ’n donkerkop man, het doodstil gestaan terwyl Wessels die klagtes van verkragting en moord teen hom gelees het.
Hy was netjies geklee en het weinig emosie getoon terwyl media gestoei het om hom van naderby te sien.
Sy verskyning het net ‘n paar minute geduur voordat hy vinnig terug na die hofselle begelei is.
Van Wyk het om regshulp aansoek gedoen.
Die Staat het gevra dat die saak uitgestel moet word vir verdere ondersoek.
Van Wyk sal oor sewe dae, op 26 September, weer in die hof verskyn waar hy dan moontlik aansoek op borgtog kan doen.
Hy bly in aanhouding by die Pretoria-Noord-polisiekantoor.
Buite die hof het twee gewese verdagtes; Nico Venter (Anika se gewese kêrel) en Damian Treeby, verlig gelyk.
Venter het aan media gesê dat Van Wyk se verskyning ’n verassing was en dat hy hom nie ken nie.
Lees ook:
Man linked to Anika Smit death in custody
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


