CrimeLocal newsNewsUpdate

Pretoria-man sterk aan na tref-en-trap

“Tot sy tande was gebreek na die voorval.”

’n Man wat na ’n tref-en-trap voorval in die noorde van Pretoria vir dood op die toneel gelos is, sterk tuis aan.

Roy Grota (49) is op 10 September glo doelbewus naby die Wonderboom Junction-winkelsentrum raakgery. Hy het veelvuldige beserings opgedoen.

“Hy doen baie goed. Hy kan amper weer self loop, maar is nog op baie sterk pyn medikasie,” sê Manny (51), Roy se broer.

Manny het verlede week vertel hoe Roy opsetlik raakgery is toe twee mans hom glo agtervolg het.

“Roy was tussen 01:00 en 02:00 op pad huis toe in sy bakkie toe hy merk dat ’n voertuig hom agtervolg,” sê hy.

“Hy het gedink hy herken die twee wit mans in die kar agter hom en het langs die pad stilgehou om hulle te konfronteer.”

Nadat Roy uit sy bakkie geklim het, het die mans in hulle voertuig gebly en op Roy afgepyl.

“Die wiele is bo-oor hom waar hy in die pad gelê het nadat hy getref is,” sê Manny.

’n Verbyganger het net voor 02:00 nooddienste na die toneel ontbied.

Roy is na Steve Biko-hospitaal gehaas.

Sy regterbeen was gebreek en penne is aangebring om die breek te heg.

Manny het vroeër vertel: “Beide sy longe is beskadig en al sy ribbes is gebreek. Sy niere en milt sowel as sy blaas is beskadig.”

Roy was vir ’n paar dae aan masjiene gekoppel wat hom gehelp het om asem te haal.

“Tot sy tande was gebreek en ons sal later vir hom ’n afspraak moet maak om dit te herstel,” sê Manny.

Roy sterk ’n week na sy beserings by sy broer se huis aan.

Die saak is by die Pretoria-Noord polisiekantoor aangemeld. Woordvoerder luitenant Rebecca Phatlane het bevestig dat die polisie ondersoek instel.

Niemand is nog in verband met die tref-en-trap is in hegtenis geneem nie.

Lees ook:

Pretoria man doelbewus raakgery

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button