Sinoville-dief op heterdaad betrap
“Hy het heel waarskynlik ’n afstandbeheer-toestel gebruik om te sorg dat deure van die motor nie sluit nie.”

’n Dief in Sinoville het sy rieme styf geloop toe die plaaslike GPF en polisie op hom toeslaan.
Hy is Dinsdagoggend op heterdaad betrap toe hy items uit ’n voertuig voor ’n skool steel.
“Lede van Sinoville GPF het om 07:15 die man in ’n wit Mercedes Benz opgemerk voor ’n kleuterskool,” vertel polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk.
“Hy het verdag voorgekom en hulle het besluit om hom dop te hou.”
Van Dyk sê die man het ’n rukkie later uit sy motor geklim en na ’n Toyota Fortuner in die parkeerterrein gestap.
“Hy het die passasiersdeur oopgemaak en ’n skootrekenaar en ander elektroniese items uit die motor gehaal,” sê hy.
“Die GPF-lede op toneel het besef die man het waarskynlik ’n afstandbeheer-toestel gebruik om die sluit van die motor se deure te saboteer.”
Die dief het weggery en die GPF-lede het hom agtervolg.
“Hulle het deurentyd sy bewegings per radio rapporteer. Nog GPF-lede het betrokke geraak totdat die Sinoville-polisie die motor van die pad afgetrek het.”
Van Dyk sê al die gesteelde items is teruggekry
“Die motor waarin die verdagte gery het, het vervalste nommerplate en hy is in hegtenis geneem. Die man sal binnekort in die hof verskyn.”
Sinoville-polisie bevelvoerder kolonel Johannes Ramakamakama Kekana het die GPF vir sy samewerking bedank.
“Ons doen beroep op die gemeenskap om aan te sluit by Sinoville se GPF en aktief betrokke te raak om ons omgewing veilig te hou,” sê Kekana.
Lees ook:
OPVOLG: Pretoria-man sterk aan na tref-en-trap
How to spot fake news websites, Sanef
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
