Troeteldier tweede keer geskiet
“Dit gebeur gereeld nou dat diere in Pretoria-Noord geskiet word. Elke week word nog gevalle van wrede dieremishandeling aangemeld.”
’n Pretoria-Noord inwoner sê sy is die hoenders in nadat haar kat vir die tweede keer binne vier weke geskiet is.
Madelein Meintjes het Dinsdag vertel hoe haar 10-maande-oue troeteldier vir die tweede keer ’n noue ontkoming gehad het, toe hy met ’n .22-geweer in die bors geskiet is.
“My sesjarige dogtertjie se hart is stukkend om haar katjie so te sien. Mens kan sien hy het baie seer,” sê ’n emosionele Meintjes.
Garfield die kat, bekryf Meintjes as ’n liefdevolle dier.
“Al is hy in soveel pyn, sal hy steeds om ons bene skuur en al sy liefde gee. Ek kan nie glo dat enigiemand so wreed kan wees om hom so seer te maak nie.”
Meintjes sê haar kat is weke gelede in die maag geskiet.
“Die wond was gelukkig toe nie so erg nie en ek kon hom self versorg en het die wond daagliks skoongemaak tot dit kon heel,” sê sy.
“Hy is die keer in sy bors geskiet en ek moes met hom veearts toe haas om sy lewe te red.”
Meintjes sê sy het eers vermoed haar kat is met ’n windbuks geskiet.
“Nadat die veearts die koeël, wat tussen sy ribbes vasgesteek het, uitgehaal het, het hy egter bevestig dat Garfield met ’n .22 geweer geskiet is.”
Meintjes sê sy is skaars vyf maande in haar nuwe Dorandia-huis woonagtig.
“Nooit was my diere ’n probleem in die omgewing waar ek voorheen gebly het nie,” sê sy.
“Ek het twee pappagaaie wat vryelik tussen my twee katte kan beweeg – so ek weet my kat sal nie die bure of ander mense se troeteldiere en voëls leed aandoen nie.”
Meintjes sê haar kat bly ook na aan haar huis.
“Hy sal partykeer net op die muur loop tussen my en die bure se huis. Nog nooit het die bure kom kla dat hy in hul huis ingaan of daar urineer nie – so ek verstaan werklik nie waarom iemand hom sou skiet nie.”
Meintjes sê sy vrees die skut sal voortgaan om haar diere te terroriseer en sê veral katte word deur booswigte geteiken.
“Dis skokkend om te sien hoe mense op my versoek vir hulp op sosiale media gereageer het. Een man het op Facebook kommentaar gelewer dat my kat verdien om geskiet te word. Sonder rede.”
Cilla Trexler van die Wollies-diereprojek, ’n veilige hawe vir verlate diere, sê dieremishandeling is onaanvaarbaar.
“Dit gebeur gereeld dat diere in Pretoria-Noord geskiet word. Elke week word nog gevalle van wrede dieremishandeling aangemeld.”
Verlede week het Trexler vertel van drie kraaie wat naby Wollies se skuilings doodgeskiet is.
Sy waarsku inwoners aan om dieremishandeling by hul naaste dierebeskermingsvereniging aan te meld.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.


