Nogsteeds geen antwoord na kleinhoewe-moorde
Drie maande na die moord op Riekie Steenberg is Johann Heunis ook voor sy gesin doodgeskiet.
Moordenaars is steeds soek na twee aanvalle op kleinhoewes in Leeufontein, noord van Pretoria.
Lees ook: Kameeldrift moordenaars nog soek
Riekie Steenberg is in Junie doodgeskiet toe rowers haar en haar man in hul huis aangeval het.
Johann Heunis is in Oktober ten aanskoue van sy kinders en vrou vermoor.
In die vroeë oggendure van 1 Oktober, is Heunis en sy gesin op hul kleinhoewe deur gewapende rowers aangehou.
Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk het vroeër aan Rekord vertel hoe die rowers vermoedelik toegang tot die boonste verdieping van die gesin se dubbelverdiepinghuis gekry het.
Lees ook: Rowers in moorde nog soek
Heunis het die rowers gesmeek om sy gesin in vrede te laat toe een van hulle met ’n 9mm-pistool losgebrand het.
Heunis is doodgeskiet voor sy drie jong kinders en vrou.
Die rowers het net met selfone gevlug.
Op 29 Junie is Riekie en Jurie Steenberg ook op hul kleinhoewe in Leeufontein deur gewapende rowers oorweldig.
Albei is geskiet en Riekie is kort na die aanval op die toneel dood.
Lees ook: Vrou doodgeskiet in kleinhoewe aanval
Jurie het sy eerste vrou (Suna) in ’n soortgelyke voorval in dieselfde huis verloor.
Suna is in 2010 gedurende ’n rooftog in die kop geskiet en wreed aangerand. Na byna ses maande in ’n koma, is sy oorlede.
Jurie vertel dat daar ook nooit iemand in verband met haar moord aangekeer is nie.
“Ek kon nog nie die huis verkoop nie,” het Jurie Woensdag moedeloos aan Rekord vertel.
“Met die opgraderings van die huis was dit oorspronklik in die mark vir R4,8 miljoen. Nou probeer ek dit verkoop vir R2 miljoen, maar sukkel steeds om ’n koper te kry.”
Jurie sê die tragedies wat op dié hoewe plaasgevind het, skrik voornemende kopers af.
“Daar was iemand wat belang gestel het, maar later is die aanbod op die huis teruggetrek.”
Polisie kon nie onmiddellik bevestig of daar al enige inhegtenisnames in verband met die twee moorde was nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
