Local newsNews

KYK VIDEO: Benoudheid oor lekkasies in noorde

"Die reservoir is versterk met spanbeton en staal wat getoets is om geweldige druk te weerstaan."

Benoudheid heers in die noorde oor lekkasies by die omgewing se vernaamste waterbron.

Water sypel deur die wande van die Annlin-reservoir, wat massas water bevat.

LEES OOK: Vaaldam meer as 40 persent vol

“As die reservoir moet bars, spoel ons huise weg,” vertel ’n inwoner in Marijastraat.

“Ons loop klaar die risiko van ’n vloedramp. Wanneer dit reën, word huise maklik oorstroom deur water wat van die berg afloop.”

Rekord het die reservoir Maandag besoek en vasgestel dat daar wel lekkasies is. Plek-plek kan ‘n mens water self hoor val.

Wyk 50 se raadslid, Lenise Breytenbach, sê sy het inwoners se kommer met ingenieurs en kenners bespreek.

“Hulle het my verseker daar is geen risiko dat die reservoir sal oopbars nie,” sê sy.

“Die kontrakteur en ingenieurs is op die toneel besig om lekplekke te herstel.”

LEES OOK: Vuil rivier water laat visse doodgaan

Hoof van die herstelprojek, Piet van Immerzeel, sê dis tyd dat reservoirs aan ’n volskaalse vragtoets onderwerp word.

“Dit is verpligtend en die toets vereis dat die reservoir gevul moet word tot volvoorraadvlak,” sê Immerzeel.

“Tydens hierdie toets word daar gekyk na sigbare lekke, onsigbare vloerlekkasies, ensovoorts. Die algemene waterhoudende vermoë van die reservoir word dan ook waargeneem en aangeteken.”

Hy sê dié toets sal die oorsprong en posisie van die lekkasies bepaal.

“Na afloop van die toets, word die reservoir gedreineer en al die lekkasies word dan verseël met die toepaslike materiaal.”

Immerzeel verduidelik die proses word herhaal totdat al die lekkasies verseël is.

“Gewoonlik word die proses net eenkeer herhaal,” sê hy.

LEES OOK: Vuil veld skoongemaak

“Klein lekkasies deur onvolmaakte beton- gewrigte kom dikwels voor en die lekkasies wat opgemerk is aan die Annlin Reservoir is klein.”

Dit beïnvloed geensins die sterkte van die struktuur nie.

Immerzeel sê die reservoir is versterk met spanbeton en staal wat getoets is om geweldige druk te weerstaan.

“Dis getoets en gesertifiseer deur die verskaffer.”

Hy het verseker dat die werk aan die reservoir nie die watertoevoer na wonings sal onderbreek nie.

“Water word ook nie vermors wanneer dit gedreineer word nie. Dit word gevoer na ’n reserwetenk totdat die herstelling voltooi is.”

Hy sê: “In die algemeen is ons tevrede met die vordering om die klein lekkasies te herstel. Ons sal binnekort die projek oorgee aan Tshwane-metro om die reservoir in werking te stel.”

Die reservoir sal na verwagting binne die volgende vier tot ses weke weer in werking wees.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button