Hoërskool Eldoraigne se leerders in Centurion spog met vele prestasies in verskeie kategorieë die afgelope tyd.
Dit was vanjaar die eerste keer dat die skool aan die gesogte Toneelkompetisie (FEDA) deelgeneem het.
Dit het verskeie nominasies vir die skool opgelewer met toneelstukke wat opgevoer is.
Die toneelstukke Dubbelloop en Prediker 3 het die skool by die hoofsaaklik Engelse kompetisie verteenwoordig.
In Dubbelloop is Luan Swart vir beste ondersteunende akteur en Kayla Vogler vir beste beligting asook beste stelontwerp benoem.
Vogler ontvang ook spesiale meriete- toekennings vir regie en klankontwerp.
Beide Swart en Vogler behaal ’n A++ by die onlangse Pretoria Eistedfodd.
Prediker 3 het uitsonderdik gevaar en het deurgedring na die topvier vanuit 57 tonele.
Ianthe Sipsma en Kirstin Eloff is albei aangewys as beste aktrise.
Prediker 3 is die wenner vir die beste nuutgeskrewe teks, beste regie, beste klankontwerp en beste beligtingsontwerp.
Hierdie span het ook ’n A++ by die Pretoria Eistedfodd behaal.
In die semi-finaal van die ATKV se debatskompetisie by Afrikaans Hoër Seunskool het Martin Hanekom en Teresa Meyer sesde geeïndig.
Barend Bezuidenhout is by die rugby provinsiale byeenkoms vir die o.16-Noord Vaal-span gekies.
In die provinsiale hokkiebyeenkoms het die volgende leerders die Northerns-spanne gehaal: Jeanemie Vorster (o.15B); Monica Jacobs (o.15A); Mpho Mahlangu (o.18B); Marya Meyer (o.18B) en Liné Crafford (o.14A).
Hoërskool Eldoraigne se trompoppies het ook onlangs aan die provinsiale kampioenskappe deelgeneem.
Hulle het die tweede plek in die Champion of Champions kompetisie verower.
Die trompoppies het ook tweede plekke in die volgende groep items verower: Throwing Prop, Non Prop, Flag en Baton.
In die Small Drill en Large Drill-afdelings het die skool tweede plekke in al die kategorieë behaal en algeheel tweede geëindig.
Trompoppieleier Shahida Festus het die trofee vir eerste plek as leier in die Large Drill-afdeling verower.
Festus was in 2016 die kampioenleier in Suid-Afrika en is by die internasionale kompetisie in Kroasië as wenner gekroon in haar solo-afdeling.
Die skool gaan ook vandeesweek aan die SA-kampioenskappe by die Chatsworth-stadion in Durban deelneem.

