Hoërskool Eldoraigne het onlangs hul amptelike opening van hul Astro-hokkieveld gehou.
Dit was ’n bitter koue oggend maar almal was baie opgewonde.
Die dag is begin met wedstryde tussen Laerskool Wierdapark en Laerskool Menlopark se o.12-seuns.
Dit was vir Eldoraigne ’n groot voorreg om vir sommige van die seuns die geleentheid te kon bied om vir die eerste keer op ’n astro-hokkieveld te kon speel.
’n Stryd tussen die eerstespan dogters en die ‘Old Girls‘ (dogters wat vir Eldoraigne gespeel het tussen 2013 en 2016) het gevolg.
En natuurlik moes daar ’n uitslag wees en die spel is met nog 5 minute oor, gestop.
Agt sekondes is gespeel om ’n wenner te bepaal.
Die 2017 Eldoraigne dogters het geseëvier.
Na nog ’n laerskool kragmeting het die amptelike opening gevolg.
Die onthulling is namens die Beheerliggaam van 2017, deur die voorsitter, Pieter Henzen, waargeneem en die skoolhoof, dr. Anton Prinsloo, het hom bygestaan.
Die woorde op die inhuldigingsplaat stel dit so mooi: “Vir die leerlinge en die gemeenskap van Eldoraigne.”
Die ouers en toeskouers is hierna getrakteer met vinnige, uitdagende hokkiespel.
Die ‘Old Boys’ (wat tussen 2013 en 2016 vir Eldoraigne gespeel het) en die eerstespan seuns het hul staal gewys.
Weereens moes ’n wenner bepaal word toe die telling gelykop geëindig het.
Agt sekondes is gespeel, maar hierdie keer het die ‘Old Boys’ gewys oud is nog nie koud.
Die hoogtepunt van die dag vir almal was om hul vriende, ouers of onderwysers te sien hokkie speel.
Die wedstryd is in ’n lekker gees gespeel (soms ook effe buite die reëlboek).
Ten spyte daarvan kan almal met oortuiging sê die onderwysers en ouers kan maar beslis hul stemme dik maak as dit by hokkie kom.
np/sl
