Carla Smit en Elrich van der Spuy is as Hoërskool Waterkloof se hoofleiers vir 2018 aangewys.
Hulle is albei oudleerders van Laerskool Constantiapark.
Carla is ’n sterk leier wat haar ma as voorbeeld en mentor voorhou.
As enkelouer is haar ma haar grootste inspirasie en die sterkste mens wat sy ken.
Sy sê dat haar ma altyd ’n oplossing vind, maak nie saak hoe groot die probleem is nie en dat haar raad waardig en kosbaar is en van wysheid getuig.
Carla hou van braaivleis, koffie en Coke en is bang vir krokodille en hare in haar kos. Haar gunsteling boek is The Shack en films is The Choice en Vir die voëls.
Sy droom om eendag ’n Audi TT of Ford Ranger-bakkie te ry en ‘No longer a slave to fear’ is die liedjie wat haar hartsnare roer.
Haar loopbaandroom is om ’n mediese dokter te word en daarvoor werk sy baie hard om nege onderskeidings in matriek te behaal.
Sy is selfgedrewe en prestasie motiveer haar.
Carla se sterk punte is haar vermoë om gemaklik voor mense te praat, logies te dink en goed te beplan.
Haar menseverhoudings is ook uitstekend.
Sy sê egter dat sy nog moet werk aan haar vermoë om te prioritiseer en spanning te kan hanteer.
Mense wat onderneem om iets te doen en dit dan nie doen en projekte wat nie volgens beplanning verloop nie, frusteer haar.
Carla sou Nelson Mandela graag wou ontmoet het omdat hy vir haar ’n uitstekende voorbeeld van ’n leierfiguur is wat sy lewe aan geregtigheid gewy het.
Sy gaan die trots en gees van die Klofies onthou en hou by haar lewensfilosofie van doelgerig, Godgerig in alles wat sy aanpak.
Elrich se voorbeeld en mentor is die hoofseun van 2016, Janu Buys, as gevolg van sy sterk waardesisteem en die manier waarop hy die skool gelei het.
Hy hou van pizza en ystee en die liedjie Good good father van Chris Tomlin is sy gunsteling. The comeback is sy gunsteling boek en Hacksaw Ridge sy gunsteling film.
Hy sê ’n Audi R8 laat sy hart vinniger klop, maar enige praktiese voertuig
sal hom gelukkig maak.
Elrich se onmiddellike toekomsplanne is om graad 11 en matriek te slaag.
Sy langtermyndoelwitte sluit in om vir die groen en goud op die hokkieveld uit te draf.
Sy passie vir Suid-Afrika – en om ’n positiewe bydrae tot die land te maak – is aansteeklik.
Sy sterk geloofsoortuigings en innerlike motivering is sy sterk punte en hy is van kleins af geleer dat mens hard moet werk vir dit wat jy in die lewe wil bereik; niks kom sonder moeite en harde werk nie.
Slegte dae is sy motivering vir goeie dae, want sonder die slegte dae sal ’n mens nooit die volle genot van ’n goeie dag kan beleef nie.
Elrich sê sy swakpunt is dat mense te maklik oor hom loop, maar dat hy hard daaraan werk om ’n bietjie meer selfgeldend te wees.
Sy grootste bron van frustrasie is op die oomblik wetenskap!
Soos vir Carla, is dit ook Elrich se droom om Nelson Mandela te kon ontmoet. Vir hom was Madiba se voorbeeld as sterk, stil leier ’n inspirasie.
Elrich gaan sy loopbaan in Klofieland van begin tot einde onthou; hoe hy die eerste dag daar begin het, hoe hy uitgesien het na die pad wat hy sou stap en die groei wat hy sou beleef.
Sy motto is dat slegs dooie visse saam met die stroom gaan en dit is hy beslis nie.
Met twee sulke oopkop leiers wag daar ’n opwindende jaar vir die Klofies!
