’n Raadslid van die Moot het onlangs sy kommer oor oortollige sluipslapers in dié omgewing uitgespreek.
DA-raadslid Roelof Fourie sê die groot aantal sluipslapers in sy wyk is kommerwekkend.
“Daar is baie parke en velde in my wyk, wat ’n aantrekking vir die haweloses is omdat dit in ’n mate skuiling bied,” sê hy.
Fourie sê die probleem is nie net die aantal parke en velde nie, maar die feit dat daar te min skuilings in Pretoria is.
Hy sê daar is slegs twee groot skuilings waarvan hy weet, waarvan Melgisedek in die Moot een van hulle is.
Fourie sê die groter prentjie moet gesien word.

LEES OOK: Sluipslaper dreig vrou met speelgoedgeweer
“Dit help nie ons gaan jaag hulle weg op ’n sekere plek nie. Hulle sal net weer na ’n ander plek skuif,” sê hy.
“Die siklus sal homself heeltyd herhaal todat daar ’n permanente oplossing gevind is. Permanente skuilings sal opgerig moet word”
Fourie sê burgemeester Solly Msimanga is besig om die probleem aan te spreek.
Rekord het voorheen berig dat Msimanga gesê het dat daar dalk hoop vir haweloses in Pretoria is.
“Tshwane ondervind ’n toenemende probleem van dakloosheid binne sy regsgebied,” het hy gesê.
“Ons het ’n beleidsdokument opgestel om die benadering tot straathaweloosheid te verstaan en sodoende hierdie mense te ondersteun.”
Msimanga het gesê die metro sal behoeftes identifiseer vir die voorsiening van toepaslike sorg.
LEES OOK: Bourommel óf sluipslapers

Dit sal gedoen word binne die raamwerk van ’n herintegrasie-strategie en -aksieprogram.
“Ons het dus met die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van Pretoria en die Tshwane Dakloosheidforum vergader om volhoubare oplossings vir hierdie uitdaging te vind,” het Msimanga gesê.
“Tshwane is ’n versorgingsplek vir almal wat daarin woon, met inbegrip van die straat hawelose bevolking, ongeag die oorsake van hul haweloosheid en of hulle tydelik of kronies op straat is.”
Hy sê die metro sal probeer om hierdie probleem te verlig deur sommige van die stad se eiendom te omskep in skuilings vir hawelose mense.
“Die beleidsdokument voorsien ’n veilige omgewing vir almal wat in die stad woon, asook dié wat tans in permanente behuising woon en diegene wat dakloos is,” het Msiminga gesê.
Sluipslapers kan steeds by onderskeie raadslede en die Tshwane-metro aangemeld word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
