’n Foutiewe straatlig in Rietondale dryf Moot-inwoners teen die mure uit.
Die oomblik wanneer dit begin reën, skop die straatlig af en gaan van die inwoners in die straat se krag ook af.
Dit neem ongeveer 24-uur vir die krag om weer aan te kom.
Vorige voorsitter van die inwoners-vereniging, Rina Owen, sê die straatlig in Morrisonlaan is al vir die afgelope twee jaar buite werking.
“Hulle het hom al talle kere kom herstel,” sê sy.
“Die probleem gaan net aan. Al die ander ligte in die straat brand, behalwe hierdie spesifieke straatlig.”
Owen sê munisipale werkers het in die verlede ’n plastiekkappie op die veiligheidskakelaar geplaas om te keer dat dit nat raak.
LEES OOK: LUISTER: Pta straatligprojek se fase twee skop af

“Dit het ook nie veel gehelp nie, want die kappie het gou weer afgeval,” sê sy.
Owen sê sy het al die probleem vir die werkers uitgewys wat al gestuur is om die paal te herstel, maar die probleem is nog steeds nie opgelos nie.
“Die probleem lê by die straatlig en nie die mense wie se krag afgaan nie,” sê sy.
“Hulle sit elke keer net die veiligheidskakelaar weer aan.”
Sy sê toe die krag weer verlede Maandag afgegaan het, het hulle weer vir die werker probeer verduidelik.
“Hy (die werker) het toe gesê hy kan net die werk doen wat vir hom gegee is. Hy het toe die veiligheidskakelaar probeer afskakel,” sê sy.
“Hoe kan dit veilig wees? Daar is tog ’n rede hoekom dit ’n veiligheidskakelaar genoem word.”
Owen sê sy vrees vir ’n kortsluiting.
“As die veiligheidskakelaar afgeskakel is, hoe gaan hy die krag kan afskop as daar moeilikheid is?” vra sy.
LEES OOK: Pta straatligprojek ‘op koers’
DA-raadslid van die wyk, Roelof Fourie sê die skakelaar moet vervang word.
“Op die oomblik moet die metro hulle geld twee keer omdraai, maar om die skakelaar te vervang is op my lys van prioriteite,” sê hy.
Fourie sê daar is omtrent 100 soortgelyke skakelaars in sy wyk wat dieselfde probleem veroorsaak.
“Ek is besig om planne te maak om alles te laat vervang en ek hoop alles kan gou herstel word,” sê hy.
Die Tshwane metro kon nie kommentaar teen druktyd lewer nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
