
’n Hartverskeurende Facebook-inskrywing deur ’n bekende sangeres het vertel van ’n rooftog wat by hulle huis in Pretoria gebeur het.
Elizma Theron het in die inskrywing gesê die rooftog het vroeg Woensdagoggend omtrent 02:55 gebeur.
Niemand is in die rooftog beseer nie.
Tania Fourie van Select Musiek het die rooftog bevestig.
“Die familie is baie getraumatiseerd oor die voorval, maar gelukkig is niemand beseer nie en hulle is veilig,” sê sy.
LEES OOK: Dans tot jy lê met 100 van die grootste sokkie treffers
Theron het op die Facebook-inskrywing gesê hulle hond het 02:55 Woensdagoggend begin blaf.
“Ek het gedink dis vreemd, want dis nie iets wat sy gewoonlik doen nie. Ek staan toe op en sluit ons kamerdeur, nie dat ek regtig gedink het iets is fout nie want ons bly dan in ‘n sekuriteits- woonkompleks,” sê sy.
“Ek kon nie weer aan die slaap raak nie. Al twee kinders was by ons in die kamer. My ma, sussie en haar man en hulle drie kinders is by ons vir ‘n lekker kuier, so die kamers is vol.”
Theron sê sy het omstreeks 03:25 ’n gil gehoor.
“Dit was ’n gil wat ek nooit weer in my lewe hoop ek hoor nie. Dit was ma se stem,” sê sy.
“Ek het opgespring en vir Nico wakker gemaak. Ek het gesê hy mag nie sonder die pistool uitgaan nie.”
Sy sê toe haar man by die kamer uit is het sy weer die kamerdeur gesluit.
LEES OOK: Afrikaanse liedjie in Nashville gehoor
“Ek gryp die kinders en sit hulle in een van die kaste toe hoor ek ’n skoot … en nog gille en ek hoor myself hardop bid,” sê sy.
“Ek staan voor die kamerdeur en roep na Nico. Toe hoor ek stemme. My ma, sussie, die kinders en later ook Nico se stem.”
Sy sê toe sy die kamerdeur oop sluit het wit gesigte geverf met skok haar aan die ander kant ontmoet.
“Hulle [die misdadigers] het langs my ma se bed gestaan, langs my sussie se bed gestaan. Hulle was in my huis – vreemdelinge met flitsligte en lang vingers,” sê sy.
Theron sê die rowers het met geld en ander besittings ontsnap.
“Hulle is nou weg, maar hulle los hulle voetspore in die plek, waar ek en my gesin moet veilig voel,” sê sy.
“Ek kan nie en sal nie toelaat dat vrees in my broei nie want die Here se hand was oor ons, Hy het ons beskerm en bewaar. Vat maar die aardse goed….dis nie belangrik nie.”
LEES OOK: Amor in hospitaal na fratsongeluk
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
