Die vermoorde Anika Smit was deel van ’n “stout groepie”, is Donderdag getuig in die geregtelike ondersoek na die oorsaak van haar dood.
’n Vriendin van haar, Hanrika Beukes, het vertel dat sy Anika sedert hul laerskooldae geken het.
LEES OOK: Anika Smit se ma vies oor gesloer
Sy sê voor Smit se dood was daar nooit enige aanduiding dat Smit bekommerd of bang was dat iemand haar wou te na kom nie.
Beukes het aan die hof vertel dat sy, Smit en ’n ander vriendin, Angelique van Niekerk, deel gevorm het van ’n groep in Smit se vriendekring.
“Ons was die stoute groepie,” het sy vertel.
Sy sê sy en Smit sou by die skool rook en ook twee keer ’n maand stokkies draai. Beukes sê sy het ook die jonger Smit saam met haar na kroeë en kuierplekke geneem.
Die 17-jarige Smit is op 10 Maart 2010 dood aangetref in haar pa se huis in Theresapark. Sy was verkrag en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Beide haar hande was afgesny en is nooit gekry nie.
LEES OOK: Slang in kollig by Anika Smit-ondersoek
Die geredtelike ondersoek word in die Pretoria-Noord-landdroshof gehou in ’n poging om die oorsaak van haar dood te bepaal. Smit se moordenaar kon tot dusver nie gekry word nie.
Sy sê alhoewel sy twee jaar ouer as Smit is en nie “beste vriende” met haar was nie, was hul steeds goeie vriendinne.
Staatsaanklaer Tania Carstens wou by Beukes weet of sy haarself en Smit as “rebelle” sou beskryf.
“Ons het die ‘bounderies gepush’, maar tot op ’n sekere limiet,” het Beukes verduidelik. Beukes sê sy het tog ook op ’n mate verantwoording geneem vir haar vriende.
“Wanneer my vriende saam met my gery het (na ’n kuierplek), het ek seker gemaak hulle ry weer saam met my terug en dat ek hulle veilig by die huis kry,” het sy gesê.
Beukes sê sy was ook altyd eerlik met Smit se pa Johan oor waarheen hulle gaan en dat hy haar “vertrou” het om sy dogter veilig huis toe te bring.
Sy sê ook dat “Oom Johan” baie toegeeflik was met sy dogter. Sy sê Smit het ’n goeie verhouding met haar pa gehad.
Carstens het Beukes daarop uitgevra oor Smit se ander vriende.
Sy wou onder meer weet van ’n jong man op ’n motorfiets saam met wie Smit gesien is ’n paar weke voor haar dood.
Beukes het gesê sy weet nie wie die motorfietsryer was nie.
Dié man het volgens ’n ander getuie ’n blou Honda Fireblade- motorfiets gery.
LEES OOK: Anika Smit se ma ‘nie vermis’
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
