CrimeNews

Pretoria-Noord swendelaar wéér gevang

’n Pa van Pretoria-Noord het die polisie hierdie keer op die swendelaar se spoor gesit.

’n Gesoute swendelaar van Pretoria-Noord is wéér agter tralies.

Die 47-jarige Marita Grobler verskyn Donderdag in die Pretoria-Noord-streekhof op ’n aanklag van diefstal.

Sy is verlede week deur Pretoria-Noord-polisie in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is oor ’n beweerde slenter met die verkoop van ’n huis.

Grobler is in 2012 en 2014 aan diefstal en bedrog skuldig bevind.

’n Pa van Pretoria-Noord het die polisie hierdie keer op haar spoor gesit.

Hy het snuf in die neus gekry nadat sy dogter ’n deposito betaal het op ’n huis wat Grobler bemark het.

“Toe my dogter my van die lae deposito waarmee sy die huis kon koop vertel, het ek hond se gedagte begin kry.”

LEES MEER: Swendelaar doen hom voor as polisieman

Die pa het toe voorgegee dat hy ook in die huis belang stel, waarop Grobler na bewering die eiendom ook aan hom verkoop het.

Die pa sê sy is in ’n lokval in hegtenis geneem waar die “betaling” van die tweede transaksie gedoen sou word.

Rekord het in Desember 2013 berig dat Grobler haar onder meer as verhuringsagent voorgedoen het en huurgeld van voornemende huurders ingevorder het.

In daardie stadium was polisie-ondersoeke teen haar aan die gang weens bedrog en diefstal.

Pretoria-Noord-polisiewoordvoerder kaptein Rebecca Phatlane sê klagtes teen Grobler is al in 2010 by die polisiekantoor aangemeld.

“In 2010 is ’n klag van diefstal teen die beskuldigde gelê wat later teruggetrek is,” sê Phatlane.

“In 2011 is ’n klag van bedrog aanhangig gemaak wat later teruggetrek is.

LEES MEER: Pasop vir swendelaar in Pretoria

“In 2012 is klagtes van bedrog en diefstal by die polisie gelê.”

Phatlane sê Grobler is in Maart 2012 skuldig aan diefstal gevind.

Op 5 Desember 2013 het Rekord berig dat Grobler glo saam met haar huishulp in ’n huis in Danie Theronstraat weggekruip het toe die polisie op haar toegeslaan het.

Sy is toe op ’n klag van diefstal in hegtenis geneem.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button