Dit blyk dat misdadigers wat honde vergiftig, nou ook na die Moot beweeg.
Dit volg nadat ’n familie van Mayville vroeg verlede Woensdagoggend amper hul Duitse herdershond verloor het as gevolg van vergiftiging.
“Ons het Chloe 06:00 daardie oggend in die badkamer gekry, toe is daar net bloed oral,” sê inwoner Anitha Enslin.
Sy vertel dat vroeër daardie oggend, omstreeks 00:45, het hul drie honde onophoudelik begin blaf.
“Ek het dadelik op ons sekuriteitskamera’s gaan kyk, maar kon nie verder as ons erf sien nie. Ons straatligte werk nie,” sê sy.
Sy sê hulle het toe die drie honde in die huis laat inkom.
“Van ’n jong ouderdom, spring die honde deur ons venster as hulle buite toe wil gaan. Só die venster is omtrent permanent oop,” sê sy.
Enslin sê sy het omtrent 03:00 daardie oggend wakker geskrik.
LEES OOK: 25 Honde vergiftig sedert Maandag in weste
“Shadow, ons ander Duitse herdershond, was op die bed toe ek wakker skrik,” sê sy.
“Sy klim nie gewoonlik op die bed, tensy die weer swaar is nie. Daar was geen donderweer daardie aand nie.”
Enslin sê sy is 06:00 deur haar vreesbevange lewensmaat, Deidre van der Spuy, wakker gemaak vir hulp.
“Daar was net bloed oral. Ons het later baie plekke met bloed in die huis gekry waar Chloe vir skuiling gaan soek het,” sê sy.
“Bloed-afskeiding is een van die tekens van vergiftiging. Ek het sonder om twee keer te dink, vir Chloe geaktiveerde houtskool ingegee.”
Hulle het die hond daarna veearts toe geneem, waar sy dadelik op ’n drup geplaas is.
Enslin sê hul bure het daardie selfde aand vier honde verloor as gevolg van vergiftiging.
“Ons het nou al twee keer ’n verdagte wit bakkie opgemerk wat in die straat op en af ry,” sê sy.
LEES OOK: Kriminele wat honde vergiftig weer terug in die Moot
“Die bakkie stop dan op die verkeersirkel en staan ’n rukkie daar.”
Wonderboompoort-polisiewoordvoerder, kaptein Mandlakayise Zwane sê geen gevalle van dierevergiftiging is al by die polisie aangemeld nie.
Hy moedig slagoffers aan om dit by hul naaste polisiekantoor aan te meld.
DA-raadslid van die wyk waar dit gebeur, Elmarie Linde, moedig inwoners aan om paraat te wees vir vreemde aktiwiteite in die gebied.
“Dit het duidelik geword dat hier ’n vlaag van dierevergiftiging in die Moot is,” sê sy.
“Dit is vir my bitter hartseer dat misdadigers nie eens respek vir die diere het nie. Hulle dink om van die dier ontslae te raak, gaan die inbraak makliker maak.”
Sy sê slagoffers moet dierevergiftigings dadelik by die polisie of GPF aanmeld wanneer dit gebeur.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
