’n Onlangse vlaag inbrake by ’n veiligheidskompleks in Montana het inwoners boos.
Inwoner Wesley Roux sê sy huurhuis is die derde teiken van diewe binne ’n week.
“Vroeër die week is daar by twee ander huise ingebreek,” sê hy.
“Die mense is bang. Sover is dit nog net diefstal, maar word dit nie stopgesit nie kan dit lei tot erger misdade.”
Roux sê sy trouring, onder andere, is tydens die inbraak by sy huis gesteel.
“Dinsdagaand, voor ek en my vrou gaan slaap het, het ek uitermatig moeg gevoel en voor die TV aan die slaap geraak – wat nooit gebeur nie.”
Roux sê: “Ons het vroeg die aand opgegaan (tweede verdieping) om in die bed te klim en ek het dadelik vas aan die slaap geraak.”
LEES OOK: Leerlinge se tasse weg na inbraak
Roux sê gedurende die aand het nie eens hul op-en-wakker miniatuur dobermann-hondjie wakker geword nie.
“Dit was baie vreemd. Coco (hond) sal vir die geringste geluid opspring om te blaf.”
Roux sê hy is self ’n “ligte slaper” en sal wakker word wanneer sy hond blaf.
Hy sê toe hy die volgende oggend die leë staanplek waar sy TV was sien, het hy eers besef dat daar by die huis ingebreek is.
“My trouring – wat ek in die aand afhaal – is saam met my horlosie weg,” sê hy.
LEES OOK: Vierde inbraak ruk skool
Die televisie, ’n skootrekenaar en beursie is ook as vermis aangemeld.
“Ek weet nie hoe lank hulle (diewe) ons in ons huis dopgehou het nie,” sê Roux.
“Ek weet nie of hulle iets, soos ’n CD, gebrand het dat ons so vas aan die slaap geraak het nie.”
Die onlangse inbrake by die veiligheidskompleks is by die Sinoville-polisiekantoor aangemeld.
Woordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê polisie stel ondersoek in.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
