MunicipalNews

Weste se reservoirs moet beter bewaak word

“Vandalisme en kabeldiefstal is heeltemal buite beheer in Pretoria.”

Veiligheid by reservoirs in die weste van Pretoria moet opgeknap word, sê DA-raadslid Elma Nel.

Sy sê inwoners in haar wyk ervaar kort-kort water-onderbrekings weens vandalisme en sabotasie by reservoirs.

“Vandalisme en kabeldiefstal is heeltemal buite beheer in Pretoria.”

Nel sê sy het die probleem by die stadsraad aangemeld en gevra dat veiligheid verbeter word.

“Die slotte na die reservoirs word gebreek en erge skade word aangerig,” vertel sy.

“Voorheen is die kleppe van die reservoir ook beskadig.”

Raadslid Elma Nel.

Sy sê die herstelwerk aan reservoirs jaag die metro onnodig geld uit die sak.

Rekord het voorheen berig dat vroeër in November het inwoners van wyk 1 gedurig wateronderbrekings ervaar.

LEES OOK: Wes-reservoir weer herstel ná vandalisme

Nel het voorheen vertel dat inwoners daardie drie weke lank gesukkel het met pype wat bars.

“Infrastruktuur in my wyk is tussen 50 en 60 jaar oud,” het Nel vertel.

Sy het gesê omdat die infrastruktuur so oud is, bars die pype gereeld.

“Wanneer die pype bars, is dit redelik maklik hanteerbaar. Munisipale werkers kan uitgaan om dit te herstel,” sê sy.

“Maar in hierdie geval het inwoners vir die laaste drie weke van Vrydagmiddag tot Maandag lae waterdruk ervaar.”

Sy sê almal in haar wyk is daardeur geraak.

Die reservoir in Mountain View. Foto: Kayla van Petegem

“Die meeste inwoners was woedend, wat verstaanbaar is,” sê sy.

Later in November is nog ’n reservoir verniel.

Dit het wyk 1 weer sonder water gelaat.

LEES OOK: Water Wednesday: Cape Town Day Zero has moved to May 2018

“Dis hoekom ek besluit het om te vra vir bykomenede sekuriteit,” sê Nel.

“Dit kan nie langer so aangaan nie.”

In die noorde van Pretoria was daar ook wateronderbrekings die afgelope naweek.

Sinoville is die meeste hierdeur geraak, sê wyk 50 se raadslid, Lenise Breytenbach.

“Ons vermoed sabotasie omdat toerusting uit die gebied se reservoir gesteel is. Ons het meer sekuriteit nodig om hierdie kriminele dade te voorkom,” sê sy.

“Ek het die probleem opgeneem met die rampbestuur sowel as ons burgemeester.”

Die Tshwane metro kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button