Die gesoute swendelaar van Pretoria-Noord gaan nog ’n week moet wag om ’n aansoek tot borg te doen.
Marita Grobler (47), wat voorheen skuldig gevind is aan diefstal en bedrog, sal na verwagting op 12 Desember terug wees in die hof.
Pretoria-Noord-polisiewoordvoerder kaptein Rebecca Phatlane sê Grobler sou op 1 Desember aansoek doen om borg, maar die saak is weer uitgestel vir verdere ondersoek.
Grobler is verlede maand in hegtenis geneem op aanklag van diefstal.
Sy is in 2012 en 2014 aan diefstal en bedrog skuldig bevind waarvoor sy toe beboet was.
Rekord het in Desember 2013 berig dat Grobler haar onder meer as ’n verhuringsagent voorgedoen het en huurgeld van voornemende huurders ingevorder het.
LEES OOK: Noord-swendelaar terug in hof
Phatlane sê klagtes teen Grobler is al in 2010 by die polisiekantoor aangemeld.
“In 2010 is ’n klag van diefstal teen die beskuldigde gelê wat later teruggetrek is,” sê sy.
“In 2011 is ’n klag van bedrog aanhangig gemaak wat ook later teruggetrek is.
“In 2012 is nog klagtes van bedrog en diefstal by die polisie afgelê.”
Phatlane sê Grobler is in Maart 2012 skuldig aan diefstal gevind.
LEES OOK: Polisie trek vermeende swendelaar vas
Op 5 Desember 2013 het Rekord berig dat Grobler glo in ’n huis in Danie Theronstraat weggekruip het toe die polisie weer op haar toegeslaan het, na soortgelyke klagtes van diefstal en bedrog.
Sy is onlangs in hegtenis geneem toe ’n pa van Pretoria-Noord die polisie op haar spoor gesit het.
Volgens dié pa het Grobler ’n huis aan sy dogter verkoop en daarna die woning ook aan hom probeer verkoop het.
Nog inwoners het aan Rekord geskryf en beweer dat hulle in soortgelyke slenters beland het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
