MunicipalNews

Weste-spruit dryf inwoners teen mure uit

Rondom die spruit lê vulis en allerhande goedere gestrooi waarvan van dit gesteelde besittings is.

Dit blyk nou dat ’n stink spruit in die weste van Pretoria in ’n onwettige stortingsterrein ontaard.

Rondom die spruit lê vulis en allerhande goedere gestrooi waar onder daar gesteelde besittings is.

Inwoner, Amanda van Biljoen sê sy is raadop.

“Ons kan nie meer met die reuk saamleef nie,” sê sy.

“Dit dryf ons teen die mure uit. Die stroom ruik baie sleg. Somtyds kry ons die reuk van ’n rioolplaas, ander kere ruik dit soos gas.”

Sy sê ook sy is bang vir veiligheid.

“Misdadigers gebruik die spruit om weg te kruip. Hulle weet die polisie sal hulle nie volg nie want daar is allerhande siektes daarbinne,” sê sy.

LEES OOK: Moot-spruit bewaring ’n probleem 

Hierdie veld in Booysens gee ’n verskriklike reuk af wat van die stormwaterstroom afkomstig is.

Inwoners kla dat die reuk veral in die aand en vroeë-oggend bykans ondraaglik is.

Hulle beweer selfs dat mense al van die spruit siek geword het.

“Dit stink só dat ons ons deure saans moet toemaak. Somtyds is dit so erg dat ons nie eers kan eet nie.”

Van Biljoen sê sy verstaan nie hoe dié probleem so lank kan aanhou nie.

“Die water vloei reguit in die Bon Accorddam in wat later in drinkwater omskep word,” sê sy.

Biljoen is die eienaar van die Kleintreetjies-kleuterskool in Beaconstraat.

LEES OOK: OPVOLG: Ondersoek ingestel by wes-spruit

“Ek het al soveel kinders verloor as gevolg van die spruit. Ouers wil nie hê hul kinders moet rondom die slegte reuk wees nie,” sê sy.

“As gevolg daarvan verloor ek ’n groot deel van my inkomste.”

Biljoen sê meeste inwoners in die gebied kla ook oor die spruit.

“Ek dink die slegte reuk word deur stilstaande water veroorsaak,” sê inwoner, Kleintjie Janse van Rensburg.

“Die stilstaande water gee ook aanleiding tot muskiete en goggas.”

Sy sê die stormwaterstroom begin om die draai van haar huis in Paffstraat.

“Op warm dae kan ek nie durf om my deure en vensters oop te maak nie,” sê sy.

“Die reuk is regtig by tye ondraaglik.”

LEES OOK: Kilnerpark-spruit besoedel

Van Biljoen sê: “Ons probeer die oorsaak van die probleem opspoor, maar ons weet nie wie vir die reuk verantwoordelik is nie.”

Sy sê dat sy die probleem so gou as moontlik opgelos wil hê, voordat dit nog inwoners in die omgewing omkrap.

Van Biljoen sê sy wil nie as gevolg van die probleem verhuis nie.

“Ons het klaar hier ’n lewe begin. Die stink spruit laat seker tien teen een die waarde van ons woonbuurt ook daal,” sê sy.

In ’n vorige berig het ’n inwoner gesê: “Ek woon ’n blok van die spruit af en die reuk is verskriklik, van die aand regdeur tot die oggend.”

Die reuk pla inwoners al vir jare en niemand doen iets om hulle te help nie.

Die Tshwane-metro het teen druktyd geen kommentaar gelewer nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button