’n Probleem erf in die Moot dryf inwoners in die gebied teen die mure uit.
Hierdie erf, in Soutpansbergweg, was voorheen bekend as ’n nes vir dwelms en prostitusie.
In April verlede jaar is die inwoners uitgesit en die huise op die erf is afgebreek.
Toe dit gebeur, het inwoners ‘n sug van verligting geslaak.
Maar hul kwale het nie daar geëindig nie.
Voorsitter van die Rietondale Huiseienaars en Inwonersvereniging, Carin Thirion sê nadat die inwoners uitgesit is het die eienaar die huise afgebreek en baie van die boumateriaal is verwyder, maar die res is daar gelaat.
Sy sê ’n hek is aangebring om toegang te beperk en die heining is met lemmetjiesdraad versterk.
LEES OOK: Moot erf verswak drasties
“Intussen is die plantegroei besig om oor te neem en teel muise, rotte en ander ongediertes aan,” vertel sy.
Thirion sê sy probeer al sedert Januarie vanjaar die stadsraad vra om die eienaar te verplig om die perseel skoon te maak.
“Tot op hede is daar wanneer ek die saak opvolg, asook van die e-posse wat na ander afdelings vir optrede gestuur is, bly dit sonder resultate,” sê sy.
Intussen is die hek wat toegang verhoed het gesteel en die heining lê ook nutteloos.
“Die terrein is dus ‘n gevaar vir die aangrensende erfbewoners omdat ongewensdes daar kom en maklik toegang tot die aanliggende persele kan bekom sonder dat hulle van die staat af sigbaar is,” sê sy.
Sy sê die erf lok sluipslapers wat die erf as skuiling gebruik.
“Mense stort ook hul rommel op die sypaadjie voor die eiendom en daar is potensiële aanvalle op voetgangers van sluipslapers op hierdie eiendom,” sê sy.
LEES OOK: Moot erf ’n groot gevaar
“Benewens die veiligheids- en gesondheidsrisiko wat deur die eiendom gelaat word soos dit is, word die gebied negatief beïnvloed.”
Thirion sê inwoners wat hul eiendomme wil verkoop, kan dit nie verkoop nie as gevolg van hierdie eiendom.
Sy sê dit beïnvloed glo die waarde van die eiendomme.
’n Ander inwoner, Arne Sjölund sê hy bly reg agter die erf.
“Sedert die inwoners van die eiendom uitgesit is, het ek ‘n ernstige probleem met rotte en slange gekry,” vertel hy.
“Die oorgroeide bome het ook my elektriese heining beskadig wat maak dat die alarm afgaan.”
Hy sê gedurende die afgelope maande moes hy gedurig haweloses van sy eiendom afjaag.
DA-raadslid, Roelof Fourie sê hy is bewus van die verlate erf.
“Dit is al by GPF-vergaderings genoem en op ons Regional Councillor’s Forum is dit deel van ‘n hele paar ‘derelict buildings’ [vervalle geboue] wat hanteer moet word,” sê hy.
Fourie sê klagtes wat hy oor sulke eiendomme kry word na die streeksdirekteur verwys.
“Die verwysing na inspekteurs en die regsafdeling word van daar af gedoen,” sê hy.
“Ongelukkig weet ek nie waar die proses met hierdie spesifieke eiendom trek nie.”
Die Tshwane-metro kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




