Seisoendiewe in Sinoville en Montana fokus op voertuie soos Toyota’s, sê die polisie.
Woordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê daar is ’n toename in diefstal van- en vanuit voertuie.
Hy sê soveel as ses misdade van motordiefstal word weekliks by die polisiekantoor aangemeld.
“Die voertuie wat die meeste gesteel word is Toyota’s,” sê Van Dyk.
“Motoreienaars word weereens gewaarsku om te alle tye waaksaam te wees wanneer hulle winkelsentrums besoek, selfs as hulle by vriende of familie gaan kuier in woongebiede.”
Hy maan dat motoriste die gewoonte moet aankweek om seker te maak hul deure is gesluit voor hulle wegbeweeg van die voertuig.
“Maak seker deur om aan die handvatsel van die deure te voel.”
Hy sê nalatigheid open dikwels gapings vir motordiefstal.
LEES OOK: Wonderboompoort reports a rise in vehicle-related theft
“Tydens ‘Black Friday’ het die polisie by een winkelsentrum soveel as drie voertuie gevind wat nie gesluit was of met oop vensters gelaat is in ’n parkeerterrein.”
Van Dyk sê motoriste moet sover moontlik van parkeerterreine gebruik maak waar veiligheid- of motorwagte waak.
“Maar mense moet steeds hul voertuie sluit.”
Van Dyk sê: “Mense wat Montana se privaat hospitaal besoek word ook daaraan herrinner om nie buite op die sypaadjie te parkeer nie, maar van die parkeerterrein by- en langs die hospitaal gebruik te maak.”
Hy sê alle waardevolle besittings moet in die kattebak van die voertuig gehou word.
“Moet nie jou handsak of beursie op die passasierssitplek laat wanneer jy ry nie. Versteek dit eerder onder jou sitplek waar dit nie sigbaar is nie.”
LEES OOK: Theft-out-of-motor vehicles on the increase
Verlede maand het Sinoville polisie op twee vermeende motordiewe toegeslaan.
“Die polisie bly toegewyd om misdadigers stop te sit en ons gemeenskap te beskerm, maar ons het hulp nodig van ons inwoners,” sê Van Dyk.
“’n Pro-aktiewe benadering is wat nodig is van ons gemeenskap om diefstal te voorkom.”
Polisiebevelvoerder Kolonel Maria Roberts stem saam en vra inwoners om waaksaam te wees.
Sy bedank die toegewyde polisie-offisiere, GPF en buurtwagte vir hul getroue diens aan hul gemeenskap.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
