Die gesoute swendelaar van Pretoria-Noord bly in aanhouding na sy versuim het om borg te betaal.
Marita Grobler (47) het Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.
Sy word aangekla van diefstal.
Grobler is borg van R2 000 toegestaan maar het nie die bedrag aan die hof betaal nie, sê Pretoria-Noord-polisiewoordvoerder kaptein Rebecca Phatlane.
“Sy is toe terug na Kgosi Mampuru waar sy in aanhouding bly,” sê Phatlane.
Grobler sal na verwagting weer op 30 Januarie in die hof verskyn.
Sy is voorheen skuldig gevind aan diefstal en bedrog.
LEES OOK: Pretoria-Noord swendelaar wéér gevang
Rekord het in 2013 berig dat Grobler haar onder meer as ’n verhuringsagent voorgedoen het en huurgeld van voornemende huurders ingevorder het.
In daardie stadium was polisie-ondersoeke reeds teen haar aan die gang weens bedrog en diefstal.
“Klagtes teen Grobler is al in 2010 by ons (polisiekantoor) aangemeld,” het Phatlane gesê.
Grobler is verlede maand vasgekeer toe ’n pa van Pretoria-Noord die polisie op haar spoor gesit het.
Volgens dié pa het Grobler ’n huis aan sy dogter verkoop en daarna die woning ook aan hom probeer verkoop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
