CrimeNews

OPVOLG: Familie van Mooinooi-vroue bly glo dat hul leef

“Ons besef dat daar vir ons ‘n baie uitdagende tyd voorlê. Daar is nog baie onbeantwoorde vrae, maar ons glo dat daar tog elemente van hoop in die saak lê.”

Die familie van twee Mooinooi-vroue wat op pad na Pretoria verdwyn het, sê hulle het hoop dat hul geliefdes veilig gevind sal word.

Anisha (30) en Joey van Niekerk (32) het Sondag 10 Desember vermis geraak op pad na ’n begrafnis in Pretoria.

Die voertuig waarin hul gery het, is sedertien in die Randfontein-omgewing ontdek, waar dit uitgebrand het langs die Magaliesbergpad.

Verlede Donderdag is drie mans in verband met hul verdwyning in hegtenis geneem.

Koos Strydom (53) saam met die jonger Jack Mokotedi (18) en Aaron Sithole (23) het Vrydag in die hof verskyn.

Hulle word van moord beskuldig, sowel as roof, ontvoering en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Alhoewel polisie vroeër gesê het dat hulle vir die liggame van die vroue soek, sê die familie hulle hoop om Anisha en Joey lewendig te vind.

Anisha se broer Wynand van Niekerk het ’n brief namens die families geskryf.

LEES OOK: UPDATE: Missing North West women’s car found burnt

Dié brief lees:

“Goeie môre aan al ons familie en vriende. Ek skryf hierdie namens die naby familie van Anisha van Niekerk (met baie deernis, meegevoel en liefde ook vir Joey van Niekerk, my sussie se lewensmaat en vertroueling, se familie wat tans deur dieselfde ervaring gaan).

Baie dankie aan elke liewe persoon se liefde, gebede, bystand en ondersteuning gedurende die afgelope week. Die verdwyning van Anisha en Joey, en veral die saak daar rondom, is vir elkeen van ons ’n groot skok. Ons ervaar maar baie wisselende emosies rondom hulle verdwyning sedert Sondag.

“Ons verneem dat sekere mediahuise huidiglik daarop sinspeel dat Anisha en Joey reeds dood is. Alhoewel daar sekere waarhede rondom die artikels is (soos die aanklagte van moord, ens.), is daar nog geen liggame gevind om dit te bevestig nie.

Die SAPS werk huidiglik 24 uur ’n dag aan die saak. Daar is ook ander organisasies wat meehelp om die proses deeglik en glad te laat verloop. Ons maak huidiglik gebruik van alle moontlike hulpbronne. Aan elkeen van hierdie persone sê ons ook dankie.

Ons besef dat daar vir ons ’n baie uitdagende tyd voorlê. Daar is nog baie onbeantwoorde vrae, maar ons glo dat daar tog elemente van hoop in die saak lê.

LEES OOK: UPDATE: North West women still missing – murder probe continues

“Ons versoek dat elkeen van julle sal bly bid en ondersteun. Ons waardeer elke boodskap en gebed. Ons beantwoord dalk nie elke SMS of WhatsApp nie. Weet net dat ons dit lees en daardeur versterk word. Sonder julle gebede en ondersteuning sou ons nie tot hier kon kom nie. Bid saam met ons vir krag, helderheid en uiteindelike klarigheid op die saak.

Help ons asseblief ook om steeds foto’s en berigte te bly deel. Ons koester nie onrealistiese verwagtings nie en ons is ook nie naïef nie. Ons glo eenvoudig net op die oomblik dat God by magte is om dinge te doen wat vir ons onmoontlik is. Daar het alreeds ’n klomp wonderwerke in die afgelope week gebeur.

Hierby volstaan ons dan vir eers. Ons hou elkeen van julle op hoogte so ver ons kan. Baie seën en vrede en weereens dankie!”

Foto’s: Facebook

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button