Inwoners in Pretoria-Noord sê hulle is moeg vir die stank van riool wat verby hul huise vloei.
Een van die inwoners, ’n oudlanddros, het sy ongelukkigheid duidelik gemaak deur ’n straat te hernoem sodat dit by die rioolkrisis pas.
LEES OOK: Rooiwal sewage spill continues – residents demand urgent action
Die naamplate “K*kstraat” en “Sh*t Street” het verlede Vrydag onder die Jan van Riebeeckstraat-naambord verskyn.
“Die volgende stap sal wees om ook my adres te verander,” skerts Johan Vorster.
Vorster sê hy het die naamborde opgesit nadat talle klagtes oor rioollekkasies in dié straat op dowe ore geval het.
“Twee maande gelede het die stadsraad ’n waterlekkasie herstel en in die proses ’n rioolpyp beskadig,” sê Vorster.
“Nou stroom die str*nt hier af en niks word gedoen om die rioolpyp te herstel nie.”
Vorster het, nadat hy as landdros afgetree het, vir vier jaar by die Tshwane-munisipaliteit gewerk.
Hy sê die voortdurende probleme met waterlekkasies en riool in die straat waar hy woonagtig is, is onaanvaarbaar.
Sy buurman, dr. Andrew Marx, het ook sy stem dik gemaak oor die water- en rioolprobleme.
LEES OOK: Riool uiteindelik opgeruim
“Nuwe ontwikkeling word toegelaat sonder dat daar voorsiening gemaak word vir die ekstra rioolafvoer,” sê Marx.
Marx en Vorster het verlede jaar kapsie gemaak teen die ontwikkeling van woonblokke op ’n erf in Jan van Riebeeckstraat.
“In November, sonder dat ons in kennis gestel is van enige vergadering, is die ontwikkeling goedgekeur,” sê Vorster.
Rou riool wat ook in Vorster se erf in loop, bly ’n probleem.
“Die stank is ondraaglik en dis ’n gesondheidsrisiko vir ons as inwoners.”
Tshwane-metro woordvoerder Lindela Mashigo kon nie onmiddelik bereik word vir kommentaar nie.
Dana Wannenburg, wat tydelik instaan vir die Pretoria-Noord-raadslid, het Maandag ondersoek ingestel op die rioolprobleem.
“Die rioollekkasie wat oorsprong vind tussen 94 en 96 Jan van Riebeeckstraat, kan ek bevestig is aangemeld by die metro,” sê Wannenburg.
“Die lekkasie het ontstaan waar die twee rioolpype gekoppel is. Dit is dus nie so eenvoudig om te herstel nie.”
Wannenburg sê ’n aansoek is gedoen vir ’n kontrakteur om die pyp te herstel.
“Dit mag dalk ’n week of langer neem voor herstelwerk kan begin.”
LEES OOK: Sewage leak a problem in Soshanguve



Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
