MunicipalNews

Plakkers gebruik stootskraper om huise op te rig in die weste

Inwoners het op die nuwe plakkerskamp afgekom toe hul rook geruik het wat afkomstig was van die vleiland.

Nog ’n onwettige plakkerskamp word in die weste van Pretoria opgerig, dié keer met behulp van ’n stootskraper.

Toe Rekord die nuwe plakkerskamp by ’n vleiland agter Keerweerstraat in Booysens Woensdag besoek het, was plakkers besig om die land plat te maak met ’n stootskraper vir plakkershuise.

Plakkers huur glo soms stootskrapers en ander masjinerie om hul plakkerhuise op te rig.

Plaaslike inwoners het op die nuwe plakkerskamp afgekom toe hul rook geruik het wat afkomstig was van die vleiland.

LEES OOK: Nog nuwe plakkers in die weste 

Toe hul ondersoek instel, het inwoners gevind dat huisies besig was om opgerig te word.

Sektorlid Louise van Staden sê hulle het teen Sondag alreeds verskeie klagtes van inwoners ontvang.

“Een van ons ander sektorlede het toegang van agter af gekry en gesien wat besig was om te gebeur.”

Van Staden sê dit is die eerste keer wat daar in die vleiland geplak word.

Inwoners vrees intussen dat Pretoria-Wes besig is om ’n bestemming vir plakkers te word.

Een van die inwoners, Johannes Monareng, sê dat hy moedeloos is.

“Ons het genoeg plakkerskampe in die weste. Nou wil hulle nog ook onwettig kom plak,” sê hy.

“As die plakkershutte afgebreek word, gaan hulle buitendien net weer op ’n ander plek opslaan.”

LEES OOK: Nog plakkers in die weste gekry

Monareng beskuldig die plakkers daarvan dat hulle die omgewing besoedel.

“Dit is altyd vuil rondom die plakkershutte. Vir ons bring dit ’n gesondheidsrisiko en peste,” sê hy.

“Is daar nie iets wat hieraan gedoen kan word nie? Voordat ons ons oë uitvee, bly die plakkers tussen ons.”

Hy sê ook die oortollige plakkerskampe veroorsaak dat die waarde van die buurt afneem.

“Ek bly al vir ongeveer vier jaar in hierdie huis,” sê hy.

“Toe ons hier ingetrek het, was daar nooit sulke probleme gewees nie. Gamorrah was alreeds hier, maar dit was al.”

Hy sê ’n dringende plan sal gemaak moet word.

Metropolisie-woordvoerder Isaac Mahamba sê ’n hofbevel is nodig voordat die plakkers verwyder kan word.

“As die leë grond aan die metro behoort, moet die munisipale uitvoerende hoof se kantore aansoek doen om ’n uitsettingskennisgewing,” sê Mahamba.

Hy het inwoners gevra om die metro onmiddellik in kennis te stel wanneer plakkershuise opgerig word.

LEES OOK: Verhuurders sukkel met buitelandse plakkers

“Sodra ’n klag gelê is, kan die metropolisie uitgaan na die terrein,”sê hy.

Sektorlede sê onwettige plakkers het inwoners sowel as besighede geraak.

Hulle sê menslike afval en urine afkomstig van die plakkers het die gebied tot ’n gesondheidsgevaar verklaar.

Hulle voeg by dat ’n gesondheidsrisiko ontwikkel waar ookal hulle plak omdat daar geen sanitasiegeriewe is nie.

DA-raadslid van die gebied, Frik van Wyk is bewus van die plakkerskamp, maar kon nie dadelik kommentaar lewer nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button