Straat in die weste sal herstel word
“Die swaar voertuie veroorsaak ook dat die toestand van die pad baie vinnig versleg.”
Planne is in plek om ’n sleg verweerde pad in die weste van Pretoria te herbou.
DA-raadslid Frik van Wyk sê Maliestraat in Booysens word daagliks by hom gerapporteer as ’n pad wat net nie meer aanvaarbaar is vir gebruik deur gewone voertuie nie.
“Die pad word veral gebruik as ’n diensstraat, wat beteken dat swaar voertuie dit op ’n daaglikse basis gebruik,” sê hy.
“Die swaar voertuie veroorsaak dat die toestand van die pad baie vinnig versleg.”
Van Wyk sê omdat dit ’n baie duur projek sal wees om die pad te herbou, het hy dit op die vyf-jaar geïntegreerde ontwikkelingsbeplanningsprogram geplaas.
LEES OOK: Weste raadslid maak paaie skoon
“Ek het vroeg in April weer druk geplaas op die paaie-departement om met ’n plan vorendag te kom om te kyk wat aan die pad gedoen kan word.”
Hy sê inwoners se voertuie het al skade opgedoen en die klagtes het by hom uitgekom.
“Die geweldige goeie reënseisoen dra natuurlik by tot verdere skade,” sê hy.
“Ek hoop dat daar werklik spoedig ’n oplossing sal kom omdat inwoners beter verdien vir die belasting wat hulle betaal.”
Van Wyk sê hy wil ’n beroep doen op inwoners om geduldig te wees met die toestand van die paaie, “veral omdat dit oor die jare só agteruit gegaan het as gevolg van geen instandhouding”.
Hy sê inwoners kan foto’s neem van plekke wat aandag nodig het en dit aan hom stuur met die adres of plek waar die probleem is.
Hierdie is nie die eerste keer wat Van Wyk die toestand van paaie as hoë prioriteit stel nie.
LEES OOK: AfriForum vul Pretoria-Wes slaggate
Hy het verlede jaar bestuurspoed by verskeie strate in sy wyk aangespreek.
Van Wyk het spesifiek verwys na die kruising by Luderitz- en Boekenhoutkloofstrate.
“Daar was al verskeie motorongelukke by hierdie kruising weens die hoë spoed wat sommige motoriste ry,” het hy gesê.
Inwoners in Tuine, Booysens, Clarermont en Suiderberg het verskeie plekke geїdentifiseer waar dringend aandag gegee moet word aan spoedkalmering.
Hy het gesê in die huidige boekjaar is daar min geld begroot.
“Maar ek vertrou die situasie sal met die volgende begroting baie beter lyk,” het hy gesê.
“Inwoners moet weet hulle versoeke val nie op dowe ore nie.”





Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
