CrimeLocal newsNews

INFOGRAFIKA: Bejaardes wéér teiken van diewe in Pta-winkelsentrums

“Twee of drie vroue werk saam om mense binne klerewinkels te besteel.”

Polisie in die noorde het bejaardes gewaarsku om op die uitkyk te wees vir slinkse sakkerollers in Pretoria-winkelsentrums, ná ’n onlangse plaag van sulke misdade.

’n Inwoner het onlangs vertel hoe sy en nog ’n egpaar van hul besittings besteel is in klerewinkels in die Moot en die noorde van Pretoria.

Suzie van Wyngaard (66) van Mountain View sê sy is Januarie geteiken deur sakkerollers in ’n winkel in Wonderboom.

“Een van die diewe het my beursie uit my handsak gevat sonder dat ek enigiets agtergekom het,” vertel sy.

LEES OOK: INFOGRAFIKA: Noord-bejaarde spring diefstal vry, toe berugte swendelaars toeslaan

Van Wyngaard sê ’n bejaarde paartjie is Dinsdag op dieselfde wyse besteel.

“Ek het die man en sy vrou, wat aan ’n rolstoel gebonde is, gesien by ’n winkelsentrum – pas nadat hulle besteel is.”

Sy sê dié diefstal het in Mayville plaasgevind, maar by dieselfde kettingwinkel.

“Dit blyk asof die diewe van klerewinkel na klerewinkel in die omgewing rondbeweeg,” sê sy.

Van Wyngaard sê tydens die diefstal in Januarie waarin sy betrap is, is haar aandag deur ’n vreemdeling afgetrek.

“’n Vrou het my genader en gevra om te kyk of die klere wat sy aan het nie té lank is nie,” sê sy.

“Ek het gebuk om te kyk – en dis seker toe dat een van die diewe my beursie uit my handsak, oor my skouer, gegryp het.”

Van Wyngaard sê in sekondes, nadat sy besef het haar beursie is weg, het die vreemdeling verdwyn.

“Daar was slegs een werkende sekuriteitskamera in die winkel wat op die kasregisters gefokus was,” sê sy.

“’n Karwag het my buite in die parkeerterrein vertel dat daar baie sulke diefstalle plaasvind. Dis gewoonlik twee of drie vroue wat saamwerk om mense só te besteel.”

Sinoville-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk het die week weer mense, veral bejaardes, gewaarsku om paraat te wees teen sakkerollers.

LEES OOK: INFOGRAFIKA: Kommer oor diefstal by noord-winkelsentrums

“Alle misdade móét aangemeld word by die naaste polisiekantoor,” sê Van Dyk.

“Sonder ’n formele klag, kan polisie nie ondersoek instel en die diewe vastrek nie.”

Sien wenke:

Infografika: Corlia Kruger

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button