Moot se hoofstraat gaan agteruit
Die toestand van Codonialaan in Môregloed is besig om drasties agteruit te gaan.
Een van die hoofstrate in die Moot is besig om erg agteruit te gaan, volgens plaaslike inwoners.
Inwoner Sakkie van Rensburg sê die toestand van Codonialaan in Môregloed is besig om drasties te versleg.
Hy verwys onder meer na ’n kragboks op die hoek van Codonia- en Collinslane.
Hy beweer sluipslapers gebruik die area agter die kragboks as ’n openbare badkamer.
“Die reuk is ondraaglik en ek weet nie hoe die mense wat naby woon dit uithou nie,” sê hy.
“Ek stap gereeld en loop ook baie verby hierdie kragboks. Dit raak net al hoe erger.”
Hy sê die kragboks is al ’n probleem sedert 2014.
Hy sê hy het al selfs so ver gegaan as om die sluipslapers aan te spreek.
LEES OOK: Straat in die weste sal herstel word
“Hulle was baie arrogant gewees en het vir my gesê hulle het die reg om daar te wees,” sê hy.
DA-raadslid van die gebied, Frans Smith sê hy is bewus van die kragboks.
“Daar is nie juis iets wat ’n mens daaraan kan doen nie – hoe verhoed jy iemand om die ruimte agter die kragboks as ’n openbare badkamer te gebruik?” vra hy.
Smith sê ook die probleem is gevaarlik en kan ’n kortsluiting veroorsaak.
Hy sê daar was ’n opsie om die kragboks te omhein met ’n palisade-heining.
“In terme van die palisade [heining] is daar baie opsies wat oorweeg moet word,” sê hy.
“Omdat dit ’n grasserige area is, kan dit maklik ’n brandgevaar veroorsaak as toegang tot die kragboks moeiliker is,” sê hy.
Van Rensburg sê sekere plekke in Codonialaan is gestrooi met droë takke.
“Ek woon al vir jare in Waverley en die gebied is regtig besig om agteruit te gaan,” sê hy.
“Dit is glad nie meer wat dit was nie.”
Van Rensburg sê ook die straat het ’n gevaar geword vir motoriste en voetgangers.
Hy verwys spesefiek na ’n pyp wat vroeër vanjaar gebars het op die hoek van Codonia- en Cunninghamlane.
“Daar het nou selfs al ’n dam gevorm danksy die water wat opdam,” sê hy.
LEES OOK: KLANKGREEP: Moot-wes straatligprojek op ys
“Die waarskuwingband wat veronderstel om inwoners te waarsku is al verblyk en mense sal dit nie sien todat dit te laat is nie.”
Smith sê hy was bewus van die waterlek.
“Die kontrakteurs het reeds gegrou om te sien wat die waterlek veroorsaak,” sê hy.
“Hulle kon dit nie dadelik toe gooi nie omdat die grond nat was.”
Smith sê hy het reeds versoek dat die gat toegemaak moet word.
Die Tshwane metro kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.



Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
