CrimeLocal newsNews

Vrou rig vuurwapen op klubgangers in noorde

“Sy het ons agternagesit in haar motor en by ’n verkeerslig weer die wapen op ons gerig.”

’n Vrou het klubgangers in die noorde van Pretoria die naweek groot laat skrik toe sy ’n vuurwapen op hulle gerig het.

Sy het ’n paartjie by die kuierplek in Montana gedreig voordat sy hulle in ’n voertuig agternagesit het.

Die man, wat net as Louw bekend wil wees, sê hy het vir sy lewe en dié van sy vriendin gevrees toe die gewapende vrou hulle met die dood dreig.

“Ons het Saterdagaand by ’n klub gaan dans,” vertel hy.

“Dit was rondom 23:00 toe ’n groterige vrou en die man saam met haar begin moeilikheid maak het.”

Die man het dronk gelyk.

LEES OOK: OPVOLG: Weermaglid binnekort weer in hof oor skietery in die noord

“Hy het aan mense begin stamp en amper oor sy voete geval,” vertel Louw.

“Gewoonlik bly ek nie lank by kuierplekke nie, juis om dié soort gedrag te vermy.”

Louw sê die man het ook aan hom gestamp.

“Ek het dit duidelik gemaak dat hy my moet uitlos toe die vrou my kom aanvat het – so asof sy gewag, of gehoop het vir ’n bakleiery.”

Louw sê hy was bewus daarvan dat die vrou gewapen is.

“’n Vuurwapen van 9mm het by die lyfband van haar broek uitgesteek.”

Hy sê hy is teen sy sin by ’n konfrontasie met die vrou betrek.

“Sy het haar vuurwapen gevat, onder die voorkant van haar hemp ingedruk en dit op my en my vriendin gerig.”

Louw sê hy en sy vriendin het weggestap en die bestuurder om hulp genader.

“Hulle (bestuur) het toe die vrou uitgevat, maar minute later was sy terug in die klub,” sê hy.

“Sy het ons die heeltyd dopgehou en beduie, deur haar vinger oor haar keel te trek, dat sy ons wil doodmaak.”

Louw sê hy het weer met die bestuurder van die klub gepraat.

“Hy was baie onsimpatiek en het gesê: ‘Jy dink nie daaraan om die vrou te slaan nie?’ – so asof ek die moeilikheid begin het,” sê hy.

LEES OOK: OPVOLG: Weermaglid in Pta-noord-hof na skietery

“Ek en my vriendin het toe besluit om eerder te ry.”

Louw sê die vrou het hulle agtervolg.

“Toe ons by die verkeerslig op die hoek van Braam Pretoriusstraat en Lavenderweg aankom, het ’n wit Polo langs ons stilgehou,” vertel hy.

“Dit was dié einste vrou – alleen in die voertuig – wat haar vuurwapen deur die venster op ons gerig het.”

Louw sê hy het vinnig probeer wegkom van die vrou, wat hom agterna gesit het.

“Uiteindelik kon ek daarin slaag om haar af te skud.”

Sinoville-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê ’n klag van intimidasie sowel as rig van ’n vuurwapen word ondersoek.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

LEES OOK: VIDEO: Montana se gevaarlikste kruising

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button