Twee Moot-sterftes steeds ondersoek
Die verhoor van vier moordverdagtes begin volgende maand.
Twee onnatuurlike sterftes die afgelope twee jaar in die Moot word steeds deur die polisie ondersoek.
Die jongste geval is die dood van Dianne Rose Ayres.
Haar ma Rose sê sy het haar dogter vir die laaste keer op 29 November 2017 gesien.
Sy sê Dianne se vriend het daardie dag by haar gekuier.
“Hy was ’n jarelange vriend van haar,” sê sy.
Dianne het vroeër die dag ’n begrafnis van ’n vriend bygewoon. Sy was klaarblyklik hartseer en wou ’n entjie gaan stap.
“Dit het alles só vinnig gebeur. Een oomblik was sy daar, die volgende oomblik is sy weg,” vertel sy.
Rose sê al wat van Dianne agtergelaat is, is die skoene wat sy aangehad het en haar handsak.
“Toe Dianne só skielik verdwyn, het ek oral na haar gesoek,” sê sy.
LEES OOK: OPVOLG: Moot moorde nogsteeds ondersoek
Op 5 Desember het Rose die nuus ontvang van haar dogter se dood.
“Die polisie het na my huis toe gekom en gevra ek moet haar kom uitken,” sê sy.
“Ek kon Dianne slegs uitken deur ’n tatoeëermerk op haar been.”
Rose sê volgens Dianne se doodsertifikaat en nadoodse ondersoekverslag is sy reeds op 30 November dood verklaar.
Dianne se lyk is verlede jaar op die N4-deurpad naby ’n brug in die Moot gekry.
Villieria-polisiewoordvoerder kaptein Coba Brits sê die saak word steeds deur die polisie ondersoek.
Die tweede sterfte is dié van oud-polisieman, Danie Dreyer.
Die verhoor van vier moordverdagtes in die saak begin op 8 Mei in die Hooggeregshof in Pretoria.
Hulle is Estelle Reddy, Gerhardus Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst.
Dreyer se lyk is op 4 April 2016 by Flowerstraat in ’n mangat gekry.
Die vier se aansoek om borgtog is in Mei verlede jaar geweier.
LEES OOK: OPVOLG: R300 000 beloning vir inligting oor onopgeloste Weste moord
Dreyer is skynbaar verlede jaar op 28 Maart in sy huis in Villieria vermoor, glo in ’n rusie oor geld.
Reddy het speurders na ’n adres in Flowersstraat gelei waar Dreyer se lyk in ’n mangat gelaat is.
Papenfus, Johnson en Furst het glo sy lyk daarheen gebring.
Suur is toe glo oor die lyk gegooi in ’n beweerde poging om van bewyse ontslae te raak.
Papenfus is kort na die vonds van Dreyer se lyk vasgetrek terwyl Johnson op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem is.
Furst het homself op 12 April aan die polisie oorhandig.

LEES OOK: OPVOLG: Verhoor vasgestel op Moot oud-konstabel moord
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
