Verdagtes in die hof na Eersterust man se verdwyning
"Dean was die tipe persoon wat die telefoon sou optel om sy familie in te lig waar hy was."
’n Moedelose pa van Eersterust hoop dat ’n hof die raaiselagtige verdwyning van sy seun kan oplos.
Dean Jafta is op 19 Mei 2017 gesien.
Sy voertuig is twee dae daarna by ’n meenthuis in Clarina, Akasia gekry.
Dean se pa, Denzil sê die familie het min hoop dat hul 20-jarige seun nog leef, amper ’n jaar nadat hy weg is.
Talle inwoners van Eersterust het verlede Vrydag by die Pretoriase landdroshofkamer bymekaar gekom ter ondersteuning van die Jafta-familie.
LEES OOK: OPVOLG: Moot moorde nogsteeds ondersoek
Drie verdagtes wat verband hou met Dean se verdwyning het verskyn.
Volgens Denzil is sy seun na bewering gekaap.
Maar volgens ’n vriend het Dean beplan om êrens heen te gaan saam met die derde beskuldigde, Mark Booysen, wat die gemeenskap as Billy ken.
“Ons het inligting gekry dat Dean ’n oproep gekry het om êrens saam met Billy te gaan en dat Billy die vriend R1 000 aangebied het om agter te bly,” sê Denzil.
“Maar daardie Vrydag het Dean nie teruggekom nie. Sedertdien het ons Billy ondervra en hy het geweier om ons al die besonderhede te gee en te ontken dat hy Dean gesien het.”
Booysen het Vrydag kort voor die hof verskyn met medebeskuldigde Sizwe Mabuza en Claude Marius.
Mabuza en Marius was op borgtog vrygelaat, terwyl Booysen in aanhouding was en ’n aparte vonnis vir moord gedien het.
Die saak is tot 22 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.
LEES OOK: NUUSFLITS: Vermiste Pta-man se lyk gevind
Die tweede beskuldigde, Marius, is ’n borgtogvoorwaarde gegee wat hom verbied om met die Jafta-familie te praat nadat hy na bewering hulle gedreig het.
Denzil het gesê hy wou net sy seun se lyk vind, want hy twyfel dat Dean nog leef.
“Dean was die tipe persoon wat die telefoon sou optel om sy familie in te lig waar hy was,” het Denzil gesê.
“Maar sedert sy verdwyning 11 maande gelede het ons geen inligting ontvang nie.”
Die polisie kon teen druktyd nie vir kommentaar oor vordering in die saak bereik word nie.

LEES OOK: OPVOLG: R300 000 beloning vir inligting oor onopgeloste Weste moord
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
