Die twee “vriende” wat beskuldig word van die moord op Richard Wood het verlede week weer in die Pretoria-Noord-magistraatshof verskyn.
Wood (26) is in November verlede jaar dood, ná ’n beweerde aanranding.
Christopher van der Westhuizen en Marchant Bredell het Donderdag kortliks in die hof verskyn voordat die saak uitgestel is tot 22 Mei.
“Dit was vir my ’n groot skok. Ek kon dit amper nie glo nie,” was sy ma Maryna se reaksie nadat Van der Westhuizen en Bredell vroeër die jaar in hegtenis geneem is.
LEES OOK: OPVOLG: ‘Moord’-vriende weer in hof
Rekord het vroeër berig dat ’n erg-beseerde Richard op 5 November deur ’n veiligheidswag op ’n sypaadjie in Pretoria-Noord gevind is.
Hy is op 13 November oorlede nadat hy bykans ’n week in ’n koma was.
“Richard se 82-jarige ouma was ook saam met ons Donderdag in die hof,” sê Maryna.
“Ons het gehoop om uiteindelik antwoorde te kry oor my seun se dood.”
Maryke sê dit was belangrik vir “Ouma Nelie” om self die moord-verdagtes te sien.
“Ouma het Richard en die ander kinders vir 10 jaar lank opgepas toe sy nog in die huis was,” sê Maryna.
“Richard was sy ouma se regterhand.”
Maryna het vroeër vertel dat een van die beskuldigdes, Van der Merwe, ’n goeie vriend was van Wood.
LEES OOK: ‘Vriende’ in hof na Pta-Noord seun se moord
“Ons ken vir Christopher al vanaf kleintyd,” het sy gesê.
“Marchant het ons kort voor Richard se dood eers ontmoet.”
Sy sê beide die “vriende” was ook by Wood se begrafnis.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
