OPVOLG: Begraafplaas spoedig opgeknap
Dit kom nadat talle inwoners, veral van die Moot, gekla het oor die slegte toestand van die begraafplaas.
Die opknapping van die verwaarloosde Zandfontein-begraafplaas in Pretoria kan binne enkele dae begin.
Hierdie onderneming kom van die Tshwane-metro se woordvoerder, Lindela Mashigo.
“Onderhoudswerk aan die begraafplaas sal voor die einde van die week begin,” sê hy.
Talle inwoners, veral van die Moot, kla oor die beroerde toestand waarin die begraafplaas verval het.
Mashigo sê die metro se standaardpraktyk is om die onderhoud van begraafplase op ‘n maandelikse grondslag te doen.
Dit geld nie vir die winterseisoen nie, wanneer gras net gesny word waar dit nodig raak.
LEES OOK: Steeds klagtes oor weste begrafplaas
“Die veranderinge in seisoenale patrone en onlangse swaarreën het egter tot gevolg gelei dat daar oorgroeide gras in begraafplase regoor Pretoria is,” sê Mashigo.
Minstens twee inwoners van die Moot het onlangs hulle kommer uitgespreek oor die toestand van die begraafplaas.
“Daar is steeds geen asblikke nie en die gras is vreeslik lank,” sê Villieria-inwoner, Marisa Engelbrecht.
“Vulis lê oral gestrooi en daar lê al vir maande ‘n boomstomp op iemand se graf – dit is só tragies.”
Engelbrecht het verlede jaar gekla dat sy nie behoorlik afskeid kan neem van haar seun Christo wat daar begrawe lê nie. Hy is in 2015 op driejarige ouderdom dood.
“My seun is in November daardie jaar begrawe, maar ons kon nog nie vir hom ‘n grafsteen oprig nie omdat die nodige sement nog nie gelê is nie.”
Sy het hierdie week vertel dat die sement intussen gelê is en dat haar seun se grafsteen opgerig is.
LEES OOK: Nuwe hoop vir Zandfontein-begraafplaas
Lydia Mouton van Mayville sê sy wil nie eens meer die begraafplaas besoek nie.
“Dit maak my vreeslik hartseer om die plek só te sien,” sê sy.
“Dit plek lyk nie net sleg nie, maar geliefdes se grafte word ook beskadig.”
Inwoner en lid van die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie (SANCO), Ricardo Daubern sê die begraafplaas is in ‘n skokkende toestand.
“Dit is ‘n skande dat dit só lyk – hoe moet mense vir hul geliefdes kom kuier?” vra hy.
“Waarvoor betaal ons dan belasting?”
DA-raadslid van die wyk Frik van Wyk sê die onlangse swaar reën het baie met die probleem te make.
“Inwoners is emosioneel oor die toestand van hul geliefdes se grafte. Ek verstaan heeltemal hul punt.”
Van Wyk sê een van die nagevolge van die reën was dat verskeie grafte ingesak het.
“Gewoonlik as dit gebeur, wag ons eers dat die grafte heeltemal insak,” sê hy.
“As ons dit voortydig sou opvul, sal die graf net verder sak en die probleem bly onopgelos.”
Hy sê na aanleiding van vele klagtes het hy die metro gevra om die grafte op te vul en dit is onlangs gedoen.
“Die gras het ook baie lank geword as gevolg van die reën en ek het versoek dat dit gesny moet word,” sê hy.
LEES OOK: Rebeccastraat begrafplaas in ’n swak toestand
Van Wyk sê hierdie is ‘n lang proses weens ‘n probleem met kontrakteurs.
“Dit bly ‘n voortdurende probleem en ek dink nie dit sal baie gou opgelos word nie.”


Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
