OPVOLG: Moordverdagte op Moot mangat moord weer vir mediese behandeling
Die verdagte het glo reeds vyf hartaanvalle gehad sedert sy inhegtenisname.
Die saak op die moord van Danie Dreyer het Woensdag in die hooggeregshof voortgegaan.
Estelle Reddy, Gerhardus Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst word aangekla vir moord op Dreyer.
Die vier word ook aangekla vir roof met verswarende omstandighede, nadat Reddy ’n week na Dreyer se dood ’n bekentenis by die polisie gaan aflê het.
Volgens haar bekentenis het drie mans vir Dreyer probeer beroof en hy het ’n hartaanval gekry waarby Papenfus hom noodbehandeling probeer gee het.
Die vier word ook aangekla vir brandstigting en die besit van ’n onwettige vuurwapen.
Hulle ontken skuld op alle aanklagtes.
Die verhoor het in Februarie vanjaar begin en die staat het reeds sy saak gesluit.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/119626/opvolg-skokkende-inligting-oor-moot-oud-polisieman-se-moord/
Maar as gevolg van Furst se gesondheid, moes die verhoordatum op verskeie geleenthede verskuif word.
Hy het glo reeds vyf hartaanvalle gehad sedert sy inhegtenisname.
Toe die hof Maandag vroeër moes verdaag as gevolg van Furst se toestand, het regter Bert Bam beveel dat ’n mediese sertifikaat aan die hof voorgelê moet word.
Toe hy die sertifikaat Woensdag ontvang, het Bam egter gesê dit was onvolledig.
Papenfus se regsverteenwoordiger het aansoek gedoen dat Furst vir die nodige behandeling moet gaan sodat sy gesondheid nie die verhoor verder belemmer nie.
Die versoek is goedgekeur en Furst sal eers op 17 September in die hof verskyn.
Hy bly in aanhouding.
Die verhoor op die ander drie beskuldiges sal egter voortduur.
Dreyer se lyk is op 4 April 2016 by Flowerstraat in ’n mangat gekry.
Reddy het speurders na ’n adres in Flowerstraat gelei waar Dreyer se lyk in ’n mangat gelaat is.
Papenfus, Johnson en Furst het glo sy lyk daarheen gebring.
Volgens vroeë getuienis deur Reddy, nadat Dreyer gesterf het is sy lyk eers vir drie dae in die basis van die bed versteek, suur is toe glo oor die lyk gegooi in ’n beweerde poging om van bewyse ontslae te raak.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/119811/opvolg-verhoor-op-moot-oud-polisieman-gaan-voort/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
