OPVOLG: Drie skuldig aan Moot mangat moord
Twee van die beskuldigdes is ook skuldig aan brandstigting omdat hulle die slagoffer se kamer aan die brand gesteek het om van bewyse ontslae te raak.
Die drie persone wat aangekla was vir die berugte “mangat” moord op ’n oud-polisieman, is skuldig bevind die week.
Estelle Reddy, Gerhardus Papenfus en Kevin Johnson is Maandag in die Pretoria hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Danie Dreyer.
“Die presiese oorsaak van Dreyer se dood kon nie bepaal word as gevolg van sy ontbinde lyk nie, maar daar is in die nadoodse ondersoek bevind dat hy verskeie ribfrakture opgedoen het,” het regter Bert Bam gesê.
“Die oorledene is beslis erg beseer in ’n aanval wat gespruit het uit ’n beplande rooftog.”
Bam het ook bevind dat hulle met ’n gemeenskaplike doelwit opgetree het, alhoewel nie al vier die beskuldiges deurentyd teenwoordig was nie.
Die drie beskuldiges is verder skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.
Reddy en Papenfus is ook skuldig bevind aan brandstigting omdat hulle Dreyer se kamer aan die brand gesteek het om van die bewyse ontslae te raak.
Die twee is verder skuldig bevind aan die besit van ’n onwettige vuurwapen.
Papenfus is ook skuldig bevind aan die besit van dwelms.
Rekord het verlede week berig dat die verhoor in Februarie vanjaar begin het en die staat reeds sy saak gesluit het.
Maar weens Ruvan Regionald Furst se gesondheid, moes die verhoordatum op verskeie geleenthede verskuif word.
Furst het glo reeds vyf hartaanvalle gehad sedert sy inhegtenisname.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/119811/opvolg-verhoor-op-moot-oud-polisieman-gaan-voort/
Toe die hof Maandag vroeër moes verdaag as gevolg van Furst se toestand, het Bam beveel dat ’n mediese sertifikaat aan die hof voorgelê moet word.
Toe hy die sertifikaat Woensdag ontvang, het Bam egter gesê dit was onvolledig.
Papenfus se regsverteenwoordiger het aansoek gedoen dat Furst vir die nodige behandeling moet gaan, sodat sy gesondheid nie die verhoor verder belemmer nie.
Die versoek is goedgekeur en Furst sal eers op 17 September in die hof verskyn.
Hy bly in aanhouding.
Dreyer se lyk is op 4 April 2016 by Flowerstraat in ’n mangat gekry.
Reddy het speurders na ’n adres in Flowersstraat gelei, waar Dreyer se lyk in ’n mangat gelaat is.
Papenfus, Johnson en Furst het glo sy lyk daarheen geneem.
Volgens ’n vroeë getuie deur Reddy nadat Dreyer gesterf het, sy lyk eers vir drie dae in die basis van die bed versteek. Suur is toe glo oor die lyk gegooi in ’n poging om van bewyse ontslae te raak.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/119626/opvolg-skokkende-inligting-oor-moot-oud-polisieman-se-moord/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
