Hond geskiet in die Moot
"Na drie afsonderlike operasies, is die besluit gemaak om Vlekkie Maandag uit te sit."
’n Inwoner van die Moot is hartgebroke nadat haar hond met ’n windbuks geskiet is.
Dalene Marx van Wonderboom-Suid sê haar Jack Russel, Vlekkie, is Saterdag twee weke gelede noodlottig gewond deur ’n onbekende skieter.
Sy sê Vlekkie was net buite hul erf toe dit gebeur het.
“Die koeël het haar dikderm op vier verskillende plekke oopgeruk,” sê sy.
Maar na drie afsonderlike operasies is die besluit gemaak om Vlekkie Maandag uit te sit.
“Ons het ons erf op alle moontlike plekke toegemaak, maar sy moes nog ’n plekkie gekry het om uit te glip,” sê sy.
“Ek weet dit was my verantwoordelikheid gewees om seker te maak my hond bly in die erf, maar hoe kry iemand dit oor hul hart om ’n hond te skiet?”
Marx doen ’n beroep op inwoners wat inligting het oor die voorval om na vore te kom.
“Dit gaan nie oor die hoë veeartsrekening wat ons moes betaal nie, maar die feit dat sy vir ons soos ’n kindjie was,”sê sy.
“Ons is hartgebroke oor haar en haar kans op herstel was skraal.”
Marx sê hulle het nog nie ’n saak by die dierebeskermingsvereniging (DBV) gemaak nie.
Christina Masemola van die DBV sê geen soortgelyke sake is onlangs by hulle aangemeld nie.
Sy moedig inwoners aan om sulke sake by hulle aan te meld.
Die NSPCA het in ’n verklaring gesê dat hulle glo die gebruik van ’n windbuks op enige dier is ’n skending van die Dierebeskermingswet No 71 van 1962.
Die organisasie het die volgende veiligheidswenke verskaf om die risiko te verhoed:
– Handhaaf ’n goeie verhouding met jou bure.
– Onderhandel ’n wedersydse begrip van troeteldiere.
– Kommunikeer altyd met mekaar.
– As jy ’n kat wil verhoed om jou eiendom te betree, sit citronella-pilletjies uit.
Om enige dieremishandeling te rapporteer, skakel die DBV in Waltloo by 012-803-5219 of in Centurion by 012-664-5644.
Alternatiewelik, besoek hulle webtuiste.

LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/119723/dieremishandeling-in-die-weste/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
