Local newsMunicipalNews

Nuwe heining vir Colbyn vleiland

Onwettige storting by ’n unieke spruit in die Moot is dalk nou tot 'n einde.

Onwettige storting by ’n unieke spruit in die Moot is dalk nou op ’n end met ’n nuwe heining wat opgerig word.

Die oprigting van dié heining, by die Colbynspruit (ook bekend as die Hartbeesspruit) wat in ’n natuurbewaringsgebied geleë is, het al twee weke gelede begin.

DA-raadslid van die gebied, Siobhan Muller sê die kontrakteurs behoort einde Julie klaar te wees.

“Ek is bewus van die onwettige storting by die spruit, maar ons sal slegs met die skoonmaak van vullis kan begin sodra die heining opgerig is,” sê sy.

“Dit help nie ons maak skoon en die onwettige storting gaan voort nie.”

DA-raadslid, Roelof Fourie wat in Colbyn woon sê hy was vejeug oor die nuwe heining wat opgerig word.

Hy het voorheen aan Rekord vertel hoe weinig onderhoud by die Hartbeesspruit gedoen was voordat die nuwe metro-administrasie twee jaar gelede aan bewind gekom het.

“Omdat die spruit ’n natuurbewaringsgebied is, moet dit voortdurend in stand gehou word,” sê Fourie.

“Dit help ook nie om net een gedeelte van die spruit op te ruim nie. Alles moet op een slag gedoen word.”

Fourie sê die skoonmaakproses word bemoeilik deur die feit dat die spruit deur verskeie wyke loop.

In die Moot loop die spruit deur Kilnerpark en Jan Niemandpark.

LEES OOK:

https://rekordmoot.co.za/109432/wes-raadslid-verklaar-oorlog-teen-onwettige-storting/

Die vleiland wat Kilnerpark en Colbyn skei, beskik ook oor ’n 7 000-jarige veenland.

Veen is ’n spesiale soort vleiland wat bestaan uit turf – ’n grondsoort wat uit halfvergane plantstowwe ontstaan het (Engels: peatbog).

Die gebied wat bekend staan as Colbyn Valley was oorspronklik deel van die plaas Koedoespoort.

Die plaas is toegeken aan Lourens Cornelius Bronkhorst in 1859, wie se erfgenaam die plaas in 1885 verkoop het.

Die gedeelte van die plaas wat op die vleiland geleë is, is later aan die Universiteit van Pretoria vir landbounavorsing toegeken, en uiteindelik aan die metro as ’n “natuurgebied” geskenk.

Die ondermyning van die vleiland dateer terug tot die bou van dreineringslote en besproeiingsloopgrawe vir die gebruik daarvan vir landbou.

“Veenlande is relatief skaars in Suid-Afrika – slegs sowat 10% van ons vleilande beskik oor ’n veenland,” sê Tamsyn Sherwill van Friends of Colbyn Valley in ’n navorsingsartikel.

“En as dit eers ontdek word, word dit gewoonlik gemyn.”

Die heining word opgerig by die Colbyn vleiland. Foto: Verskaf
Die heining word opgerig by die Colbyn Vleiland. Foto: Verskaf

LEES OOK:

https://rekordmoot.co.za/108566/moot-spruit-bewaring-n-probleem/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button