OPVOLG: Kattebak-moord: ‘Craig was ’n goeie man’
“Hy het vir my gesê: ‘Ons sal eendag op ’n skip dans.’ Sy moordenaars het dit van my af weggeneem.”
’n Inwoner van Centurion het die week haar hartseer meegedeel ná die moord van Craig Stephens.
Stephens (53) se liggaam is verlede maand in die kattebak van ’n motor in Montana gevind.
Die 40-jarige vriendin van Stephens, wat verkies om anoniem te bly, het met Rekord gepraat.
“Craig was ’n goeie man,” het sy bewoë gesê.
“Ek het hom geken vandat ek 17-jaar oud was.”
Die vrou sê sy het deur die media uitgevind van Stephens se dood.
“Toe ek Craig se naam in ’n berig lees, kon ek nie glo dat dit my vriend was nie,” sê sy.
“Ek het nie kontak met sy familie nie, maar kon uiteindelik bevestiging kry dat dit wel my Craigie is.”
Die vrou sê sy het ’n hegte band met Stephens gehad.
“Ons het, soos vriende soms doen, van mekaar af weg beweeg – maar dit het nie ons verhouding verander nie.”
LEES OOK:
https://rekordnorth.co.za/129077/opvolg-kattebak-moord-verdagtes-hof-vir-borgaansoek/
Sy sê sy was bewus dat Stephens finansiële probleme gehad het, maar wou nie daarop uitbrei nie.
“Twee weke voor sy dood het hy weer kontak gemaak,” sê die vriendin.
“Dit het geklink asof dit baie beter gaan met hom en ons het weer gesels soos in die ou dae.”
Sy sê Stephens se dood was vir haar ’n groot skok.
“Ek sukkel om dit te verwerk. Al waaraan ek kan dink is: hoe bang moes hy gewees het voordat hy doodgemaak was?”
Twee verdagtes in die moord was kort na Stephens se liggaam gevind is, in hegtenis geneem.
André Oosthuizen en Wouter Byneveldt sou na verwagting Woensdag in die Cullinan-landdroshof verskyn vir ’n formele borgaansoek.
Hulle word aangekla van moord, diefstal en dwarsboming van die gereg.
Stephens se vriendin sê sy ken nie die twee beskuldiges nie.
“Ek kan nie dink hoekom enigiemand Craig sou wou dood maak het nie,” sê Stephens se vriendin.
“Ek onthou nog hoe het hy vir my gesê: ‘Ons sal eendag op ’n skip dans’.”
“’n Goeie vriend is van my af weggeneem – al wat ek oor het is die herrinneringe wat hy agterna laat.”
LEES OOK:
https://rekordnorth.co.za/128101/opvolg-meer-vrae-as-antwoorde-oor-lyk-in-kattebak-in-die-noorde/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
