Local newsMunicipalNews

LUISTER: Onwettige storting by leë Moot erf

"Dié stuk grond is jare gelede net so deur sy eienaars agtergelaat."

Dit blyk dat ’n leë erf met ’n vervalle gebou in die Moot nou ook ’n plek vir onwettige storting word.

Hierdie erf, op die hoek van Van Rensburg- en Paul Krugersstrate, is nou al vir jare ’n doring in die vlees vir die Tshwane-metro, sê DA-raadslid Elmarie Linde.

Sy sê die gebou word deur ’n privaat eienaar besit.

“Die stuk grond is jare gelede net so deur sy eienaars agtergelaat,” sê sy.

Die erf was verlede jaar nog gebruik deur sluipslapers as skuiling.

Sedertdien is die gebou op die erf heeltemal gesloop deur boewe en vandale, en is raamwerk en bourommel al wat nou oorbly.

“Inwoners van die Mayville-area is redelik ontsteld oor hierdie erf,” sê Linde.

Linde sê die gevolg van die leë erf is dat daar nou onwettig gestort word.

“Nie net is die gebou nou ’n oogseer nie, maar dit is ook nou besig om ’n gesondheidsrisiko te raak,” sê sy.

“Die vullis lok ook rotte en daar is nog steeds ’n paar mense wat daar slaap.”

Linde sê die Tshwane-metro is besig om ondersoek in te stel by die erf.

“Die eienaar skuld die metro ’n groot bedrag geld as gevolg van ’n agterstallige elektrisiteit- en erfbelastingrekening,” sê sy.

Sy sê die eienaar het sedert hy die erf gekoop het, nog glad nie erfbelasting of vir enige ander dienste betaal nie.

“Die stad is nou besig om ondersoek in te stel oor hoe hulle die skuld kan verhaal,” sê sy.

“Daar is ook nog ’n verband op hierdie erf by die bank. Die bank sal ook hier moet ingryp omdat die erf nou ’n groot probleem raak.”

Linde sê sy het intussen ’n versoek aan die metro gerig om die vullis te probeer verwyder.

“Só kan ons probeer om krisisbeheer toe te pas,” sê sy.

“Ongelukkig sal ons nie baie kan skoonmaak nie omdat dit onnodige uitgawes vir die stadsraad is, terwyl daar geen versekering is dat ons die geld sal terug kry nie.”

Sy sê alhoewel hulle die rekening aan die eienaar stuur, is daar geen versekering dat hy dit sal betaal nie.

“Wat dan gebeur is, ons moet dan die belastingbetaler se geld gebruik om ’n privaat erf skoon te maak – wat onaanvaarbaar is,” sê sy.

Linde sê onwettige storting bly ’n groot probleem in Pretoria.

Sy moedig inwoners aan om onwettige storting by die metro óf metropolisie te rapporteer.

“Dit is belangrik dat die onwettige storters op heterdaad betrap word, want dit maak dit makliker om boetes uit te reik,” sê Linde.

Die metro het teen druktyd geen terugvoer verskaf nie.

Onwettige storting by die erf. Foto: Verskaf
Onwettige storting by die erf. Foto: Verskaf
Onwettige storting by die erf. Foto: Verskaf

LISTEN:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button