CrimeLocal newsNews

Huiswerkers in Doringkloof moontlike teikens

“Ons kom hierna toe om te werk vir ons kinders en hul maak ons dood."

Doringkloof-inwoners is bekommerd dat misdadigers hul huiswerkers in dié omgewing teiken.

Dit volg nadat ’n huiswerker Dinsdagoggend in Basheestraat, Doringkloof dood gevind is.

Die slagoffer is deur ’n onbekende verdagte met ’n mes gesteek. Sy is deur ’n drawwer ontdek.

Maar dit wil voorkom dat hierdie nie ’n geïsoleerde voorval was nie.

Anna Motha (62), ook ’n huiswerker, het haar storie met Rekord gedeel nadat sy die berig gesien het van die jongste aanval.

Motha is op 24 Mei ongeveer 04:15 beroof en met ’n mes gesteek.

“Ek was op pad na Rooihuiskraal en het op die hoek van Lupin- en Bothaweg vir vervoer gewag,” vertel sy.

“Ek het twee mans in die Irene-rigting sien stap.”

Motha vertel hoe die mans skielik van rigting verander het en na die Doringkloofsentrum geloop het.

Die situasie het in ’n nagmerrie ontaard toe een van die verdagtes ’n mes uithaal en na haar toe aangestap het.

LEES OOK:

https://rekordcenturion.co.za/147310/centurion-woman-killed-in-street-stabbing/

“Ek het begin gil maar hy het losgebrand en my gesteek. Hy het my vir niks gevra nie,” vertel Motha.

Sy is in die nek net onder haar linkerkaak gesteek. Sy het met haar arms probeer terugveg en weer gegil.

“Hy vat toe my sak met my skoene in en my handsak met my selfoon, sleutels, beursie en geld.”

Gelukkig het ’n sekuriteitswag van die sentrum die voorval gesien.

Die wag en ’n tweede man het haar toe gehelp om haar werkgewer te kontak.

Motha se werkgewer het kort daarna die Doringkloof Buurtwag ingelig.

Die buurtwag het reeds twee verdagtes in Leoniestraat vasgetrek met drie sakke vol skoene.

By die Lyttelton-polisiestasie kon Motha die verdagtes positief identifiseer.

Motha sê sy is dankbaar dat sy lewe.

“Ons kom hiernatoe om te werk vir ons kinders en hul maak ons dood.”

Polisiewoordvoerder kaptein Dave Miller sê die saak is tot 18 Junie uitgestel.

Daar kon teen druktyd nie bevestig word of die verdagte steeds in aanhouding is nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button